NewsNews

23 226 tienerswangerskappe in Gauteng kommerwekkend

23 226 tienerswangerskappe in Gauteng kommerwekkend

Die Gautengse LUR vir gesondheid, Nomathemba Mokgethi, het onlangs onthul dat daar tussen April 2020 en Maart 2021 altesaam 23 226 tienerswangerskappe in Gauteng was.

Nt’sekhe sê in ’n verklaring hierdie syfers toon dat die Gautengse gesondheidsdepartement, sowel as die departemente van maatskaplike ontwikkeling en gesondheid hul veldtogte om jong meisies oor die nagevolge van swangerskap en seks in te lig en bewustheid onder tieners te skep moet versterk.

“Tienerswangerskap het ’n nadelige uitwerking op die onderwysgeleenthede vir jong meisies en veral die meisies wat nie behoorlike ondersteuning en hulp het nie. Hierdie meisies is minder geneig om hul skoolloopbaan te voltooi en om ’n loopbaan te volg waarmee hulle hul families kan ondersteun,” meen sy.

Mokgethi het onthul dat meisies tussen 10 en 14 jaar geboorte aan altesaam 934 babas gedurende hierdie tydperk geskenk het. Meisies in die ouderdomsgroep van 15 en 19 jaar het geboorte aan altesaam 19 316 babas geskenk.

In totaal het tienermeisies tussen die ouderdomme van 10 en 19 geboorte aan altesaam 23 226 babas gegee vanaf April 2020 tot Maart 2021.

Nt’sekhe meen die syfers is kommerwekkend aangesien hierdie meisies nog so jonk is en hul toekoms nog voor hul uitgestrek lê.

“Tienerswangerskap bly ’n ernstige sosiale en gesondheidsprobleem in Suid-Afrika. Dit hou ’n gesondheidsrisiko vir beide moeder en kind in en dit het ook sosiale gevolge, soos die voortgesette siklus van armoede en vroeë skoolverlating,” sê Nt’sekhe.

“Die DA eis dat die departemente van maatskaplike ontwikkeling, onderwys en gesondheid in Gauteng hul veldtog teen tienerswangerskap verskerp en dat hulle die voorkoming van tienerswangerskap in skole ’n prioriteit maak,” sê sy.

Nt’sekhe het ook ’n beroep op ouers en voogde, sowel as ander belanghebbendes gedoen om saam met staatsdepartemente te werk om tienerswangerskappe te bekamp.

“Tienermeisies moet geleer word oor die ernstige gevolge van tienerswangerskap en voorkomende maatreëls om dit te bekamp. Meisies onder die ouderdom van toestemming moet ook geleer word wat hul regte is.

“Die toekoms van ons meisies kan gered word met gedragsverandering en die nodige kennis en leiding van die provinsiale regering,” meen Nt’sekhe.

Related Articles

Back to top button