NewsNews

Brand vernietig 20 000 hektaar in een dag

‘n Brand wat vroeg Sondagoggend, 8 Augustus sowat 15 km buite Ventersdorp ontstaan het, het later buite beheer geraak toe die wind opkom en dit vinnig in Potchefstroom se rigting gewaai het.

‘n Brand wat vroeg Sondagoggend, 8 Augustus sowat 15 km buite Ventersdorp ontstaan het, het later buite beheer geraak toe die wind opkom en dit vinnig in Potchefstroom se rigting gewaai het.

Dr. Kobus Roux, voorsitter van die brandbeskermingsvereniging van Potchefstroom, vermoed die brand is langs die teerpad gestig. Hy sê die vuur is eers Maandagoggend om 02:30 in die Boskop natuurreservaat geblus.

Volgens verskeie boere is nagenoeg 20 000 ha vernietig en boere het miljoene rand se skade gely met weiding en landerye met mielies wat in die brand vernietig is. Sommige boere se skure het afgebrand en het trekkers en voertuie in die brand verloor. Een van die boere, Casper Botha, wou net ‘n week wag omdat die voginhoud in die mieliekoppe op sy lande te hoog was. Hy sou hierdie week begin oes het, maar die brand het Sondag sy 130 ha mielies verwoes. Hy sê die brand was intens omdat daar baie meer droë gras in die veld was na die goeie reënseisoen verlede jaar.

Casper Botha het 130 ha mielies wat nog op die lande was verloor. Foto: Venessa van der Westhuizen

Nog ‘n boer, Jan Labuschagne, is “verpletter” nadat sy hele plaas afgebrand het. Sy landerye was reeds geoes, maar die 180 ton mieliekoppe in sy skuur is nou hope as nadat die hitte van die vuur die stoor ook laat vlamvat het. In die skuur was ook 45 bale voer en ‘n voermenger wat hy in die brand verloor het. Hy het ‘n klein wildskamp en twee springbokke het in die brand gevrek. Hy moes ook twee volstruise skiet wat erg gebrand en gely het. “Die takbokke het geskroei maar het nie gelyk asof hulle brandwonde opgedoen het nie,” sê hy hartseer.

Jan labuscaghne in sy stoor wat afgebrand het. In die stoor was 180 ton mieliekoppe, 45 bale voer en ‘n voermenger wat hy verloor het. Foto: Venessa van der Westhuizen

Jan vertel dat hy saam met ander boere in die omgewing vroeg Sondagoggend omstreeks 06:00 gehelp het om die brand naby Ventersdorp te blus. “Later die oggend het dit gelyk asof die brand geblus is en het almal weer na hulle huise teruggegaan. Teen 09:30 het ek weer ‘n oproep gekry dat die wind opgekom het en die brand weer van vooraf aangewakker is. Daarna kon niks dit keer nie,” vertel Jan verslae. In die 20 jaar wat hy boer het hy nog nooit so iets beleef nie.

André Bouwer, ‘n boer in die Potchefstroom-omgewing wat gehelp het om die brand te probeer blus, vertel dat die brand oor die teerpad gespring het. “Ek het gesien hoe vuurkole 50 m vooruit die gras aan die brand steek met die wind wat so sterk gewaai het.”

Jan Labuscaghne en André Bouwer kyk uit oor die omgewing se brandskade. Foto: Venessa van der Westhuizen

Elrina Koen wat saam met haar man Gerhard Koen boer, sê haar huis het gelukkig nie afgebrand nie, maar sy was die middag besig om kos voor te berei toe die rook hulle oorval het. “Ek kon nie glo hoe vinnig vuur beweeg nie. Ek het nog die rook by die teerpad gesien en binne 10 minute was die vuur tot naby die huis. Ek kon nie my hand voor my oë sien nie. My man het net gesê ons moet alles los en wegry. Ons het almal in die kar geklim en kon net een hond in die motor laai. Ons is baie hartseer oor ons Duitse herdershond, Loeloe, wat weggehardloop het en wat ons sedertdien nog nie kon opspoor nie. “Ons harte is op. Noudat die realiteit inskop is ons maar tranerig,” sê Elrina.

Die Koen-familie doen ‘n beroep op mense om uit te kyk vir hul hond Loeloe wat nog nie gevind kon word nie. Foto: Verskaf

Sy vertel dat sy nog nooit sulke samewerking tussen mense beleef het nie. Almal in die omgewing het aangemeld om die vuur te bestry. Haar broer, Chris Heyneke, wat ook in die omgewing boer, se plaaswerkers was die naweek met verlof, maar het almal dadelik teruggekom om te help toe hulle van die brand hoor. Pieter Nel, gebiedshoof van die brandbeskermingsvereniging noord van Potchefstroom, sê mense in die omgewing het almal saamgestaan. Hy het ongeveer 25 bakkies met vuurvegters getel en twee spanne van Working on Fire het uitstekende werk verrig. Die brandweer van Potchefstroom en die Mounted Academy van die polisie het ook saamgewerk.

Dr. Roux sê dat die Working on Fire (WOF)-spanne baie goeie ondervinding in die bekamping van veldbrande het. Geen sterftes is aangeteken nie, maar ongelukkig het twee lede van die WOF-span brandwonde aan hul voorarms en rûe opgedoen nadat ‘n rietbos by Boskop skielik opgevlam het. “Ek kan niemand uitsonder in die spanpoging om die brand te keer nie, maar Casper Botha wat ‘n vliegtuig met water gestuur het, het baie gehelp,” sê Roux. Hy glo dat die vuur beter beheer kon word as al die boere voorsorg getref het en brandbane geskoffel het. Hy moedig boere aan om aan ‘n brandvereniging te behoort wat vir hulle hierdie brandbane teen ‘n minimale bedrag sal voorberei. Volgens hom kan die volle omvang van die skade eers later bepaal kan word wanneer ‘n satellietprogram duidelike afmetings van die brandskade sal gee.

Brand vernietig 20 000 hektaar in een dag | Potchefstroom Herald

Related Articles

Back to top button