NewsNews

‘Wonderwerk en geseënde hande red Pa van Covid-dood’

Met net 5% longfunksie was daar menslik gesproke min hoop, maar mnr. Jonker het wonderbaarlik oorleef.

Sedert die begin van Julie het mnr. George Jonker, bekende sakeman en ‘n geestelike leier van Midvaal, ‘n paar keer by die dood omgedraai. Met 95% van sy longe wat deur Covid-19 geaffekteer was, was sy kans op oorlewing eintlik nul. Dit was totdat sy seun, Petriann, met ‘n “petisie” by die Vader ingetree het om vir sy lewe te pleit,  soos ‘n hofaansoek voor die Regter van die Hoogste hof.

Op Sondag, 25 Julie kon almal die wonderwerk voor hul oë sien afspeel in ‘n Facebook-video van George, waar hy na 20 dae uit die hospitaal ontslaan word. Hoewel nog swak, het hy Covid-19 oorwin en kan nou verder tuis herstel.

Verskeie lede van die Jonkerfamilie het in Junie Covid-19 opgedoen maar aangesien daar geen beddens in die Covid-sale van Vaaldriehoekse hospitale was nie, is George en Hester Jonker en hul seun, Sebastian (36), aanvanklik tuis versorg.

Hul toestand het vroeg in Julie so versleg dat Sebastian in die ongevalle-afdeling van ‘n plaaslike hospitaal opgeneem is, waar hy ‘n paar uur later gesterf het. George en Hester is op 5 Julie, ‘n dag voor hul seun se dood, in die Riemland Kliniek in Frankfort opgeneem. Hester se toestand het begin verbeter, maar met George het dit nie goed gegaan nie. Hy is die volgende dag na Mediclinic Hoogland in Bethlehem oorgeplaas.

In ‘n video-opname van ‘n sonar-ondersoek wat gedurende die krisistyd op George se longe gedoen is, verduidelik dr. Jaco Coetzee, ‘n internis van Bethlehem, dat 95% van George se longe deur Covid-19 aangetas was. Met net 5% longfunksie oor, was daar menslik gesproke min hoop.

“My pa was vir die eerste 7 tot 10 dae van sy hospitaalverblyf nie by sy volle positiewe nie,” sê sy dogter, Marlize. “Op die derde dag het ek uitgevind hy mag een besoeker per dag kry.

“Ons het hom om die beurt besoek. Ek het op omtrent die vierde aand die saal gebel om te vra hoe dit met hom gaan. My maag het op ‘n knop getrek toe die suster sê dat hy op die afdraande-pad was. My ma het reeds geslaap waar sy in die hospitaal was. Ek het my broer Petriann gebel en gesê dit gaan sleg. Ons het albei gehuil en gesê ons gaan bid en dit op ons Bybelstudiegroepe uitstuur vir gebed.

“Binne ‘n halfuur bel Petriann my terug en sê: ‘Sus, moenie worry nie, pa gaan oukei wees. Vader het vir my gesê, ek weet’. My pa kan eintlik eers die laaste drie dae van die 20 dae in die hospitaal onthou, maar het agterna besef die draaipunt het gekom toe Petriann vir hom ingetree het. Hy sê daar was ‘n bonatuurlike vrede wat op hom neergedaal het. Ons glo inderdaad dit was ‘n ingryping van Bo, en ook danksy die geseënde hande van dié wat hom behandel het,” sê Marlize.

Dit was emosionele oomblikke toe mev. Jonker, wat reeds op 12 Julie uit die hospitaal ontslaan is, en ‘n vriendin hom op Sondag 25 Julie by die hospitaal in Bethlehem kon gaan haal en saam met ‘n groot geleende suurstofsilinder, huis toe kon bring.

“My pa is nog baie swak. Hierdie siekte tas soveel van ‘n mens se liggaam en brein aan. Hy moet daagliks oefen om sterk te word. Hy kan al kort entjies loop, elke dag ‘n treetjie verder,” sê Marlize.

Sebastian se troosdiens is op 16 Julie, terwyl George nog in die hospitaal was, in Meyerton gehou. Hy was, net soos sy pa, ‘n aktiewe lid van die “10 Israel Netwerk Gemeente” in Rothdene, Meyerton.

“Ons is baie hartseer oor Bassie se dood. Natuurlik is sy plek nou leeg, maar sy legacy sal voortleef. Hy is in totale shalom (vrede en rustigheid) by ons Hemelse Vader wat vir ons sal sorg,” sê Marlize.

Opdatering:
Mnr. George Jonker het vanaand, Saterdagaand, 7 Augustus 2021, aan Vaalweekblad gesê dit gaan elke dag ‘n bietjie beter. Hy kry fisiese oefening en slaag sy longfunksietoetse elke dag met 90% of meer. Hy is nog op ‘n suurstofmasjien maar doen sy oefeninge gereeld en word stadig maar seker sterker. Hy loop ook al sonder krukke. Hy sê hy voel nog bietjie onfiks en het tussen 15 en 20 kg verloor, maar eet lekker gesonde kos en geniet sy vrou se TLC.

“Ek is uiters geseënd,” sê George.

 

Personeel van Bethlehem Mediclinic juig saam met mnr. George Jonker nadat hy verlede week na 20 dae ontslaan kon word. Die foto is ‘n greep uit ‘n video wat van sy ontslag uit die hospitaal geneem is.
Internis dr. Jaco Coetzee van Bethlehem verduidelik hier op ‘n sonarvideo dat 95% van mnr. Jonker se longe deur Covid-19 aangetas was.
Mnr. George Jonker (regs) saam met sy vrou, Hester en hul seun, wyle Sebastian Jonker (36) voordat hulle Covid-19 opgedoen het. Sebastian het vroeg in Julie weens die siekte gesterf.

‘Wonderwerk en geseënde hande red Pa van Covid-dood’ | Vaalweekblad

 

Related Articles

Back to top button