EntertainmentNewsNews

Philip Moolman se ‘Twee Jaar’ gaan manne herinner aan hul dienspligjare

Die sanger en akteur Philip Mooman is na ’n musiekdroogte van ’n paar jaar terug op die kommersiële musiektoneel met ’n enkelsnit Twee jaar wat die storie vertel van sy en vele ander manne se dienspligjare vertel

Die sanger en akteur Philip Mooman is na ’n musiekdroogte van ’n paar jaar terug op die kommersiële musiektoneel met ’n enkelsnit Twee jaar wat die storie vertel van die lekkerste tyd in sy lewe, wat hy nooit weer wil oorhê nie!

In Philip se kenmerkende Billy Joel-agtige stem, sing-vertel hy oor sy eie dienspligjare, wat in 1993 deur voormalige president FW de Klerk afgeskaf is.

Militêre diensplig wat vir sommige mans van sy generasie nog ’n eina-rouwond is, maar ander vertel dié dienspligstories weer-en-weer by ’n plaaslike watergat of om ’n braaivleisvuur.

Tog, sê Philip, wat die liedjie self neergepen het, fokus dit op die positiewe aspekte van diensplig en nie op die negatiewe nie.

“Ek het doelbewus gekies om op die tong-in-die-kies oomblikke te konsentreer, en van die slegte herinneringe te vergeet.”

Philip, wat onder meer gedurende die tagtigerjare  bekendheid verwerf het vir sy rol as Niel in die SAUK-sepie Sonkring, interpreteer Twee Jaar op sy eiesoortige kreatiewe manier. Só al asof hy as method-akteur ’n karakter in sy eie liedjie geword het.

Wel, sê Philip, dié liedjie is deur sy mede-veterane geïnspireer. “Ek het my eie persoonlike dienspligervarings met die van ander veterane gekombineer.”

Die “karakterisering” vind veral neerslag in die volgende: “… onthou jy nog, was jy ook daar? Ons moes veg teen die groot gevaar. Tienerseuns van 18/19-jaar. Ek onthou nog my *Olympic-sak. My ma het my gehelp om dit te pak (in te pak). En toe het die army-trein en die Bedfords ons kom haal.”

Hoewel Philip vroeër vanjaar te sien was in Spoorloos 2 op kykNET, is die hoofrol wat hy nou die meeste geniet om te vertolk die van ambassadeur van die Veterane Bystandfonds, ’n nie-winsgewende maatskappy wat veterane bystaan met voedsel, klere, behuising en mediese hulp.

“Die veterane,” sê Philip, “lê my baie na aan die hart omdat ek self ’n veteraan is wat vir twee jaar die nasionale dienspligpad moes stap. Daar is soveel van ons wat gedurende dáárdie tydperk van ons lewens seergekry het; wat nou nog sukkel met geestelike,- emosionele, fisiese en finansiële verwonding. “

Philip vertel dat dié Veterane Bystandfonds verlede jaar die voorreg gehad het om veterane-in-nood te help met mediese-uitgawes en -versorging. “Ons het ook bykans 25 000 borde kos aan diegene in nood verskaf. Ons subsidieer ook die verblyf en etes van veterane wat in versorgingsoorde woon.”

Philip is nog lank nie uit die mode nie; daar is net iets omtrent sy stem, sy persoonlikheid, sy menswees wat soos die Voortrekkermonument altyd met ons sal wees.

Twee jaar is soveel meer as net ’n onthou-liedjie; dit is ook ’n kuierliedjie met ’n treffende melodie en refrein wat nie net by dié veterane sal byval vind nie, maar ook by almal wat van luistermusiek met ’n oemf hou… en moet ook nie van die konsertina klanke, wat die gevoel van kuier-met-’n-lag-in-die-traan verder versterk vergeet nie.

Philip wil graag met Twee jaar groter bewusmaking vir die Veterane Bystandfonds skep om meer donateurs te werf vir Nasionale Diensplig-veterane in nood.

Vir verdere inligting sms “Twee Jaar” na 31429, of besoek die webwerf by https://veteransaidfund.co.za/about/

*********************************************************************************************************************

Related Articles

Back to top button