NewsNews

Vaalrivier vandag drooggelê om lekkende gaspyp te herstel

Vaaldam-kleppe is vanaf 08:00 vanoggend toegedraai sodat herstelwerk kan begin

Die Herald se susterkoerant, Vaalweekblad, het nie-amptelik verneem dat kleppe by die Vaaldam-wal vanoggend vanaf 08:00 toegedraai is sodat ‘n gedeelte van die Vaalrivier waar ‘n gaspyp sedert verlede Vrydag begin lek het, drooggelê kan word.

Die herstelwerk sou na verwagting sowat 5 ure duur. Vaalweekblad het Sasol vir kommentaar oor die beplande werksaamhede gevra en sal binnekort terugvoer gee.

Hier is ‘n stukkie interessante geskiedenis oor die bodem van die Vaalrivier wat in 1906 ontdek is toe ‘n deel van die rivier by Dickensonpark in Vereeniging vir ‘n dag lank drooggelê is.

Dr. Thomas Nicholas Leslie, die eerste burgemeester van Vereeniging, wou in 1906 ‘n keerwal in die Vaalrivier laat bou. Dit was om meer stabiliteit in die waterverskaffing van die rivier te bring, want in daardie dae, voordat die Vaaldam bestaan het, was die Vaalrivier baie wisselvallig… die een dag was dit net ‘n skadelose stroompie, maar die volgende dag, as dit gereën het, was dit skielik in vloed.
Die bou van ‘n keerwal (bekend as die Leslie Weir) sou sulke fluktuasie-risiko’s beperk. Vir die bou daarvan moes ‘n deel van die rivier drooggelê word.
Dit is TOE dat ‘n prehistoriese wêreld vol geheime voor die oë van dr. Leslie ontvou het.
Hy het op die bodem van die Vaalrivier afgekom op ‘n digte fossielwoud met versteende bome, plante, stingels en wortels. Alles was nog in hul oorspronklike posisies soos in die oertyd, derduisende jare gelede.
Dr. Leslie het onmiddellik die destydse staatsgeoloog, dr. E.T. Muller, gekontak, wat die volgende dag met ‘n omvattende ondersoek na dié argeologiese vonds sou begin het.
‘n Onverwagse donderstorm het ongelukkig dieselfde middag veroorsaak dat die rivierbodem weer oorstroom het en die Vaalrivier is nooit weer drooggelê om dit verder na te vors nie.
Moeder Natuur bewaar nog tot vandag toe haar geheime op die bodem van die Vaalrivier.
Die vonds verklaar wel die herkoms van die ryk steenkoollae onder die banke van die Vaalrivier, wat gevorm is uit oeroue plantmateriaal. Die Vaaldriehoek het dus in ‘n groot mate sy ontstaan hieraan te danke.

Die “fontein” in die Vaalrivier wat weens die lekkende gaspyp ontstaan het
Dr T.N. Leslie, wat die prehistoriese oerwoud op die bodem van die Vaalrivier ontdek het.

Vaalrivier word vandag drooggelê om lekkende gaspyp te herstel | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button