CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Hulp gevra met inwoner se wonde

‘n Gesin van Carletonville weet nie meer waarheen om te gaan om hulp met ‘n familielid se mediese onkoste te kry nie.

Volgens mev. Monica Hall sukkel haar swaer, James (61) reeds sedert die laaste helfte van verlede jaar met septiese wonde aan sy voete en bene. “Dit was eers net sy een been, maar dit het reggekom. Die ander been het in Februarie begin,” sê sy. Eers het net sy tone begin gangrene ontwikkel, maar nou is sy hele been al pikswart. Volgens Hall wys bloedtoetse dat hy nie sterk genoeg is om geopereer te word om sy voet te amputeer nie. Ondanks die feit dat hulle hom elke maand hospitaal toe neem en hy al verskeie kere by Carletonville Hospitaal en die Leratong Hospitaal was, word James se toestand net al erger. Hy het sowat drie weke gelede ‘n beroerte gehad en is baie deurmekaar. Hy sukkel om te sien. Hulle was al by verskeie instellings en organisasies in Carletonville vir hulp, maar dié wat wel kan help, vra al sy Sassa-geld, asook duisende rand ekstra, iets wat die gesin nie kan bekostig nie. “Eintlik het hy kos, klere, warm goed en ‘n bed. Ek het ook vir hom lekker warm slaapklere gekoop en ek en my suster wat na hom omsien, was verpleegsters,” sê Hall. Die hospitaal het ook vir hom ‘n rolstoel, loopraam en bedpan by die hospitaal gegee. “As iemand vir my pynmedikasie kan gee, sal dit baie help. Ek gee nou net Panado tablette, maar dit help nie. Doeke vir volwassenes sal ook baie help. Ek gebruik nou sy Sassa-geld om dit en sy ander medikasie te koop,” sê sy. Volgens Hall is sy al raadop. Sy kyk na ander familielede ook. “Ons weet nie eintlik meer watter kant toe nie,” sê sy. Mense wat kan help, kan haar by 082 494 8584 kontak.

Related Articles

Back to top button