NewsNews

Hou ons kind se moordenaar opgesluit, pleit Leigh se pa

"Moodley is ‘n monster wat steeds ‘n gevaar vir die samelewing inhou," sê regsverteenwoordiger.

Op 21 Julie 2004 is die land met weersin vervul toe die naakte lyk van die ontvoerde B.Comm-student, Leigh Matthews, in ‘n oop stuk veld in Walkerville in die Vaaldriehoek, gevind is. Dit was die hartseer einde van die senutergende soektog na Leigh, wat op 9 Julie daardie jaar vanaf die Bond-universiteitskampus in Benmore, Sandton, ontvoer is. Sy het ‘n dag voor haar verdwyning 21 geword.

 
 

Vir 11 dae het die hele Suid-Afrika alle nuus oor haar verdwyning met groot belangstelling gevolg in die hoop dat sy lewend gevind sou word. Leigh se laaste kontak met haar gesin was die middag van 9 Julie 2004, toe haar ontvoerder haar toegelaat het om ‘n kort foongesprek met haar pa te voer. Dit het later bekend geword dat die oproep uit die Walkerville-omgewing gemaak is. ‘n Losprys van R50 000 is vir haar vrylating geëis, wat haar pa, Rob Matthews, langs die R59-snelweg naby die Grasmere-tolhek gaan neersit het. Die ontvoerder het egter nie woord gehou en Leigh vrygelaat nie. Die volgende nuus in dié tragiese sage was toe ‘n munisipale werker op die ysige wintersoggend van 21 Julie 2004 haar lyk onder ‘n boom in die veld in Walkerville gevind het. Sy het aan koeëlwonde in die kop en bors gesterf. Die legendariese speurder, wyle Superintendent Piet Beyleveld, het die ondersoek oorgeneem en uiteindelik een van Leigh se medestudente, Donovan Moodley, as hoofverdagte geïdentifiseer. Beyleveld het altyd vermoed dat Moodley nie alleen vir die misdaad verantwoordelik was nie, maar moontlik ‘n medepligtige gehad het of as deel van ‘n sindikaat opgetree het. Aangesien Moodley skuldig gepleit het, is die hofsaak kortgeknip en Beyleveld se bevindings nooit in die hof aangehoor nie. Na sy skulderkenning is Moodley in 2005 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord, 15 jaar vir ontvoering en 10 jaar vir afpersing. Hoewel dit nie hul geliefde dogter teruggebring het nie, het die ouers daarin berus dat haar moordenaar 50 jaar van sy lewe in die tronk gaan deurbring. Dit het egter verlede week aan die lig gekom dat Moodley, wat nog net 16 jaar van sy tronkstraf uitgedien het, binnekort vir parool in aanmerking gaan kom. Mnr. Matthews het verlede week tydens ‘n mediakonferensie gesê dat hy so ‘n moontlikheid met alles in sy vermoë sal teenstaan. Volgens hom het Moodley nog nooit berou getoon of die volle waarheid gepraat nie. Hy meen ook dat daar nog geen bewyse is dat Moodley gerehabiliteer is of geskik is om vrygelaat te word nie. Mnr. Peter van Niekerk, die Matthews-gesin se regsverteenwoordiger, meen Moodley is ‘n “monster” wat steeds ‘n gevaar vir die samelewing inhou. “Leigh moes geweldige angs en trauma in die dae voor haar moord beleef het. Moodley is nie iemand wat maklik uit die tronk vrygelaat mag word nie,” het hy gesê. Leigh se ring met ‘n tanzanietsteen en ses diamantjies wat sy ‘n dag voor haar verdwyning as mondigwordingsgeskenk by haar ouers gekry het, is agterna by Moodley se destydse meisie gevind. Sy het die ring by Moodley gekry en dit gedra sonder om te besef dat dit aan die vermoorde Leigh behoort het. Vandag is dit die laaste materiële besitting van hul dogter wat die Matthews-gesin as kleinood kan bewaar. Volgens mnr. Matthews sal hulle nooit volkome oor haar dood kom nie. Leigh se suster, Karin, ontvang 17 jaar na die moord steeds intensiewe berading.  

Wyle Leigh Matthews.
Leigh se moordenaar, Donovan Moodley.
Die plek in ‘n oop veld in Walkerville, waar Leigh se naakte liggaam in Julie 2004 gevind is.
Die Leigh Matthews-gedenkroos is na die vermoorde meisie vernoem. Winste uit die verkope van die roos is ten bate van die Universiteit van Johannesburg se Stres- en Traumasentrum. https://vaalweekblad.com/100065/hou-ons-kind-se-moordenaar-opgesluit-pleit-leigh-se-pa/

Related Articles

Back to top button