HealthLifestyleNewsNews

Só help jy die kind wat hakkel

Só help jy die kind wat hakkel.

Daar is baie kinders en volwassenes wat soms nie vlot praat nie, maar nie noodwendig hakkel nie. Die meeste kinders ontgroei hakkel teen die tyd dat hulle volwassenes is. Tog is dit vir ‘n hakkelaar moeilik om ‘n gesprek te voer, of selfs ‘n telefoonoproep te maak. Wonderkure bestaan nie, en dit is dikwels ‘n lang en moeilike pad wat saam met ‘n kundige soos ‘n spraakterapeut gestap moet word. Met die regte terapie, deursettingsvermoё en empatie kan daar egter groot vordering gemaak word. Onthou: Die hakkelaar voel dikwels verleё, raak gefrustreerd en het waarskynlik ‘n lae selfbeeld. Só ‘n kind moet weet dat dit “nie belangrik is hoe hy dit sê nie, maar wat hy sê”. Wat is hakkel? Daar is nie ‘n eenvoudige antwoord op die vraag nie. Die meeste spraak-taalterapeute stem saam dat hakkel ‘n onderbreking in die vorentoe vloei van spraak is. Dit word gekenmerk deur onvlothede soos:

• Herhalings (r-r-r-rroom)

• Verlengings (eeeeemmer)

• Blokkasies (om vas te hak) Baie persone wat hakkel ontwikkel ook (dikwels onbewustelik) liggaamsbewegings in ‘n poging om die hakkelmoment te oorkom. Alle onvlotheid is egter nie hakkel nie. Dink maar aan kleuters wat leer praat. Soos wat die kind se taalvaardigheid ontwikkel, raak sy spraak al hoe vlotter.

Daarom kan alle onvlotheid nie op dieselfde manier benader word nie. Wanneer die onvlotheid inmeng met ‘n mens se kommunikasievermoё, word dit ‘n spraakafwyking, of hakkel genoem en is daar gewoonlik ‘n versteuring in die neurologiese stelsel wat spraak beheer. Die jonger kind Die spraakterapeut, Christien Neser sê dat dit van die kind se ouderdom afhang. “As die kind pas begin hakkel het, tussen 3 en 5 jaar oud, is die ouers oorbluf of bekommerd.

Dan is dit my werk om hulle gerus te stel. Hoe minder hulle reageer op die onvlot spraak, hoe beter. “Ons beraam saam planne hoe om vlotter spraak te bewerkstellig, deur middel van allerlei prettige aktiwiteite. Dit sluit in sing, versies, ritmiese speletjies, handpoppe, rollespel, maskers, fluisterspeletjies en meer. Die reël is dat dit net ontwikkelingsonvlotheid is tot op 5, buiten as die kind self daarvan bewus raak. As die kind begin onttrek, hand oor die mond slaan, snaakse aanwendsels aanleer, dan is dit egter hakkel. Met klem op vlotspraak, leer mens die brein dat vlot spraakpatrone moontlik is. Die kind moet op hierdie ouderdom ekstra liefde, tyd en aandag kry, want so ‘n onvlotheid is vir die kind ontwrigtend, al weet hulle nie mooi wat aangaan nie. “ Die ouer kind “As die kind ouer is, en reeds terapie onsuksesvol deurgaan het, en dalk op skool baie swaar kry, dan is dit ‘n ander storie. Dan is die proses heelwat langer en is die suksessyfer laer. Statistiek sê dat 3 uit elke 4 hakkelaars heeltemal vlot praat teen ongeveer 16 jaar.

Dis die ander 1 uit 4 wat lewenslank hul spraak sal moet leer beheer, of net moet aanvaar dat hulle soms onvlot is, en dit so aanvaar. “Spraakterapie is by die ouer kind selde net ‘n spraakterapeut se domein. Dikwels moet ‘n kliniese sielkundige of spelterapeut ook nader getrek word. In sommige gevalle moet ‘n neuroloog gesien word, want ‘n klein persentasie hakkelaars mag ook geringe neurologiese uitvalle hê. Sekere medikasie vir kondisies soos epilepsie, mag soms die hakkel vererger, en soms die hakkel verbeter.” Enkele wenke deur ouers in dieselfde bootjie Raadpleeg ‘n spraakterapeut en indien nodig ‘n spelterapeut of sielkundige om jou te help, gesels met ander ouers in dieselfde bootjie en raak rustig. Daar is raad. “Onthou, hoe meer gereeld ‘n vlot spraakpatroon voorkom, hoe groter die kans dat die spraak vlot gaan bly.”

• Probeer jou in jou kind se situasie indink, met ander woorde sit jouself in jou kind se skoene.

• Bly kalm en geduldig terwyl jou kind praat. Luister aandagtig. Behou oogkontak.

• Moenie die kind se sinne namens hom voltooi nie. • Praat stadiger sonder om gejaagd te wees.

• Gebruik ‘n “spraakvennoot” as julle storie lees – ‘n sagte speelding of troeteldier vir wie die kind die storie terugvertel. Saamsing met gunstelingmusiek is uitstekende oefening in rym, ritme en sinskonstruksie. Hakkelaars hakkel nie as hul sing nie.

• Fluistertyd is nog ‘n tegniek om vlotheid te oefen.

• Dramalesse kan help, maar moenie jou kind dwing om aan skoolkonserte deel te neem waar hy moet praat nie. Hakkelaars is egter dikwels vlot op ‘n verhoog – juis omdat hulle ‘n ander persona (karakter) aanneem. Net ‘n paar hakkelaars wat uitstekende akteurs geword het: Rowan Atkinson (Mr Bean), Marilyn Monroe, Emily Blunt, Hugh Grant en Anthony Hopkins. In die klas ‘n Empatiese en ingeligte onderwyser kan daartoe bydra dat die hakkelaar makliker aanpas. Verseker die kind dat jy verstaan, hy met selfvertroue in die klas kan praat, selfs al hakkel hy en moet hom nooit dwing nie. Verduidelik aan die klas wat hakkel is en dat hulle hom/haar nie mag spot of verkleineer nie. Voorskools moet die terapeut en juffrou nou saamwerk. Behandel so ‘n kleuter met liefde en koestering. Hakkel mag nie gestraf word nie.

“Hoe minder aandag, hoe beter. Koorspraak, koorlees en handklapspeletjies is uitstekende terapie wat in die klas gedoen kan word.” “Moedig ouers aan om baie vir die kind voor te lees, want dit verbeter hulle taalvermoё sodat hulle die woorde het om hul gedagtes uit te druk.

https://parysgazette.co.za/54321/so-help-jy-die-kind-wat-hakkel/?fbclid=IwAR2Uyhg1FEj64tqUGSD4hUDnZ_07j2Vj7Ho8X9RxeDJhb56l1XQ1vezifF0

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button