NewsNews

Vaaldriehoek-boer sê: Ons spoed is gebreek, maar ons gaan nie lê nie!’

Boere-egpaar sien hoe miljoene rand se wintervoer verbrand

‘n Boer en sy vrou van ‘n familieplaas in Midvaal moes vroeg Sondagoggend, 20 Junie, hulpeloos toekyk hoe ‘n vuur hul 1 200 beeste se wintervoer verwoes. Die polisie ondersoek ‘n klag van brandstigting.Mev. Elmien Kriek van die familieplaas Silwer Eike buite Henley-on-Klip, sê hulle het omstreeks 02:30 die oggend inligting ontvang dat hul voer aan die brand is.

Die Kriek-egpaar van die plaas Silwer Eike buite Henley-on-Klip in die Vaaldriehoek

“My man en ek het dadelik daarheen gejaag met die hoop dat ons nog van die bale kon wegskuif voor alles brand, maar toe ons daar kom was elke liewe stoor en voerstapel aan die brand. Dit was bykans 2 000 bale wat veronderstel was om ons die winter te hou tot die lentereëns val en ons graslande weer kan groei. Skielik sit ons toe met 1 200 beeste tussen die twee plase wat reeds die wyding kortgevreet het. Ons sou nou moes begin bale uitsit. Daardie plan het Sondagoggend letterlik in rook opgegaan.

”Die Kriek-egpaar vermoed dat die voer, wat ‘n geldwaarde van sowat R1.2 miljoen gehad het, opsetlik deur betreders aan die brand gesteek is.“Dit was nie ‘n veldbrand wat daarheen versprei het nie. Ons het breë voorbrandpaaie aan weerskante van al die drade en kampe,” sê sy. Die brandweer het dadelik uitgekom nadat Elmien hulle ontbied het.

“Voer wat só brand is onblusbaar, maar hulle het nogtans gekom en gehelp om die gebied rondom die voer te beveilig sodat dit nie na die res van die plaas en geboue versprei nie. Meyerton se brandweer het ons weer later die Sondagoggend besoek en personeel en ‘n voertuig beskikbaar gestel om die smeulende voer op te pas, ingeval ‘n wind sou opsteek en die veld aan die brand raak as die kooltjies rondwaai.”

Die plaas is deel van die gesin se familiegrond. Elmien se bejaarde skoonouers, wat reeds omtrent 40 jaar in die distrik woon, se huis is net ‘n paar honderd meter van waar die bale gebrand het.

“Ons het groot dank vir Boere Droogtehulp SA. Ons het nie eers van hulle geweet nie, maar nadat hulle van ons terugslag gehoor het, het hulle ons oorweldig met voer en skenkings. Ons het ‘n video van waar hulle ‘n vrag voer by ons afgelaai het, op Facebook gedeel, Vriende en familie van hier tot in Nieu-Seeland het dit wyd en syd versprei. Ons ondersteun dit want almal moet weet wat se wonderlike werk hierdie mense doen.”

Die Kriek-egpaar bedank almal wat kom help het, “al was dit net om ‘n traan af te droog. Ons waardeer elkeen van julle”.

”Vir die vermeende brandstigter/s het hulle hierdie boodskap: “Jy gaan ons nie onderkry, jy het dit reggekry om mense wat altyd ‘n hand uitsteek na ander, ongeag van ras, se spoed Sondagoggend te breek, maar ons sal nie gaan lê nie.”

* Enigiemand wat Boere Droogtehulp wil ondersteun om Suid-Afrika se boere by te staan, kan ‘n inbetaling maak by Boere Droogtehulp SA NPC, First National Bank, Tjekrekening, Rekeningnommer: 62801333163, Takkode: 250655, Verwysing: Droogtehulp.

Meer besonderhede oor hul werksaamhede is beskikbaar by www.boeredroogtehulpsa.org

KYK BY HIERDIE SKAKEL NA DIE VIDEO WAAR DIE EGPAAR VAN DIE EMOSIONELE EFFEK VAN DIE BRAND OP HUL LEWENS VERTEL:

https://video-lhr8-2.xx.fbcdn.net/v/t42.1790-2/10000000_168375295271235_3925308240756633879_n.mp4?_nc_cat=107&ccb=1-3&_nc_sid=985c63&efg=eyJ2ZW5jb2RlX3RhZyI6InN2ZV9zZCJ9&_nc_ohc=Pfjfo8WDf9MAX8v_Bre&_nc_ht=video-lhr8-2.xx&oh=a2a5fab50ce8a23027b5790a808c69b4&oe=60DDAD52

 

Daar word vermoed dat brandstigting die oorsaak was van die vuur wat verlede Sondag sowat 2 000 bale wintervoer op die plaas vernietig het.

Vaaldriehoek-boer sê: Ons spoed is gebreek, maar ons gaan nie lê nie!’

Related Articles

Back to top button