HealthLifestyleNewsNews

Lees die tekens van selfdood betyds

'n Neuro-afrigter, dr. Bertie Hanekom, noem die tekens wat 'n persoon wat selfdood-gedagtes het, sal openbaar.

“Waar was my insig, begrip, empatie en omgee?” Dit is die berouvolle woorde van ‘n Potchefstroomse inwoner wat die traumatiese selfdood van iemand na aan hom probeer verwerk.

Hoewel hy nie sy naam bekend wil maak nie, het hy ingestem om met die Herald te gesels sodat ander weer opnuut bewus sal word van tekens wat persone na aan jou met selfdoodgedagtes kan openbaar.

Hy gesels met deernis oor die vriend wat stief behandel is deur die lewe en somtyds ontvlug het deur dwelms te gebruik. Dit is juis dié gewoonte wat hom al hoe nader aan die swart hond (depressie) gebring het.

“’n Mens raak so vasgevang in jou alledaagse doen en late dat jy nie die gevaartekens van iemand wat ‘n einde aan hulle lewe wil maak, raaksien nie,” sê hy.

Die Herald het ‘n neuro-afrigter, dr. Bertie Hanekom, genader om meer te gesels oor die tipiese tekens wat iemand met selfdoodgedagtes sal toon. Volgens hom is een van die grootste verwyte van diegene wat agterbly dat hulle nie die tekens raakgesien het nie.

Belangrike waarskuwingstekens is volgens dr. Hanekom ‘n verandering in ‘n persoon se gemoed – langdurige hartseer, buierigheid en onverwagse woede. “Selfs ‘n skielike kalmte na ‘n periode van depressiewe en buierige gedrag kan ook ‘n teken wees dat die persoon besluit het om sy lewe te beëindig,” sê hy.

Nog ‘n belangrike teken is dat so ‘n persoon onttrek en hom/haarself sal isoleer. Somtyds gaan hulle in ‘n fase waar hul voorbereidings begin tref. “Iemand wat selfdood oorweeg, begin dikwels om sy/haar persoonlike lewe in orde te kry – hulle besoek vriende en familie, gee persoonlike besittings weg, stel ‘n testament op, restoureer sy/haar huis of kamer of maak dit aan die kant,” gaan dr. Hanekom voort.

En laastens is daar diegene wat dreig dat hulle hulself gaan doodmaak. Tog reageer almal nie dieselfde deur dit hardop te erken nie. “Nie elkeen wat selfdood oorweeg, sal dit sê nie en nie almal wat dreig om selfdood te pleeg, voer dit deur nie,” sê dr. Hanekom. Volgens hom is dit egter belangrik om dreigemente ernstig op te neem en dit nie te ignoreer nie.

Hanekom sê dat daar meer tekens is, maar dat mense wat oplettend en empaties ingestel is, bogenoemde tekens betyds behoort raak te sien. Hy noem verder dat mense moet optree wanneer hulle dink iemand die gevaar staan om selfdood te pleeg en gee die volgende riglyne:

  • Moenie die persoon alleen laat nie. Indien moontlik, vra vir hulp van vriende of ander gesinslede.
  • Verwyder alles wat die persoon moontlik kan gebruik om homself te beseer.
  • Indien die persoon reeds behandeling ontvang, help hom om ‘n afspraak met die betrokke professionele hulpverlener te maak en vergesel hom daarheen.
  • Probeer om die persoon so kalm as moontlik te hou.

Instansies wat ook gekontak kan word om hulp te verleen is:

  • Childline: 0800 055 555
  • Lifeline South Africa: 0861 322 322
  • SADAG Suicide Prevention Line: 0800 567 567
  • Tears Foundation: 010 590 5920

Selfmoord versus selfdood – Selfdood is ‘n meer toepaslike term as selfmoord. Die term selfmoord dui op ‘n misdaad en vorm ‘n onnodige stigma aan die daad.

Related Articles

Back to top button