CommunityNewsNewsPhoto Galleries

81 en steeds trots op sy werk

Met sy helderblou oë is Paul Maré reeds ‘n bekende gesig voor Pick n Pay in Carletonville.

Min mense besef egter hoe oud Maré is. Hy het op 9 Junie reeds 81 jaar oud geword. Volgens Maré het hy in Crosby in Johannesburg grootgeword, waarna hy op die Spoorweë gaan werk het. Sy swaer het hom destyds genooi om na Carletonville te trek om hier op die myne te kom werk. “Ek het eers op Doornfontein gewerk en toe by Blyvoor,” sê hy. Maré is egter in 1997 van sy pos by dié myn afgelê en het toe as parkeerwag by Pick n Pay begin werk. Hoewel hy twee seuns en ‘n dogter het wat onderskeidelik in Stilfontein, Brakpan en Makhado (voorheen bekend as Louis Trichardt) woon, sê Maré dat sy skoonsuster, Aletta Maré, eintlik maar die enigste familie is wat hy oor het. Hy loseer reeds vir jare by sy skoonsuster en betaal sy losies met die geld wat hy as parkeerwag maak. Maré is baie trots op die werk wat hy daagliks in die parkeerterrein doen. “Ek het deur die jare gesien hoe hulle ‘n klomp karre hier steel, maar nog nooit in my gedeelte nie. By my is nog nie een gestamp of gesteel nie,” sê hy. Maré sê hy wil net sy werk in vrede doen. “Ek maak maar net ‘n lewe en betaal my losies,” sê hy.

Related Articles

Back to top button