NewsNews

Potchefstromer stel boek oor Stella-moorde bekend

Susan Cilliers, joernalis by Netwerk24 en Beeld in die Noordwes, se tweede nie-fiksieboek, Die Stella-moorde, het begin Junie verskyn.

Susan Cilliers, joernalis by Netwerk24 en Beeld in die Noordwes, se tweede nie-fiksieboek, Die Stella-moorde, het begin Junie verskyn.

Vir dié Potchefstromer, wat vroeër haar meestersgraad in joernalistiek verwerf het, was dit die moeite werd om vir die tweede keer ‘n ander manier van skryf te ondersoek.

Die Stella-moorde volg ná die verskyning van haar vorige boek in 2019: Huis van Gruwels: My 16-jaar in die Springs-hel. Dit het gehandel oor ‘n pa van Springs aan die Oos-Rand wat sy vrou en kinders gevange gehou en mishandel het.

Die Stella-moorde is ‘n chronologiese vertelling van die gebeure rondom die moorde op Marna Engelbrecht (16) en Sharnelle Hough (17). Hulle is op 26 Mei 2018 in hul skoolkoshuis in die klein plattelandse dorpie Stella verwurg. Die moorde het die land geskok. Xander Bylsma (21), Sharnelle se eks-kêrel, is in 2020 aan albei die moorde skuldig bevind en vir beide lewenslange tronkstraf opgelê.

Nadat die hofsaak in 2020 ná byna drie jaar afgehandel is, het Lapa-uitgewers Susan genader om ‘n boek oor die gebeure te skryf. Sy het immers getrou elke hofsitting bygewoon en daaroor verslag gelewer. As deurwinterde joernalis, wat steeds ‘n passie vir hofverslaggewing het en die afgelope 24 jaar om die beurt in die koerant- en tydskrifbedryf (Huisgenoot) gewerk het, was sy die mees aangewese persoon vir die taak. Tog was Susan aanvanklik huiwerig om die uitdaging te aanvaar, vanweë haar voltydse aanstelling as senior joernalis by Beeld en Netwerk24.

“My werksdruk maak dit nie altyd maklik om na-ure ook te skryf nie. ‘n Mens moet jouself tyd gun om af te skakel en te rus. Ek het later ingestem omdat dit vir my ‘n uitdaging was en het gevoel dat ek die boek graag aan Marna en Sharnelle wil opdra. Ek wou met die boek ook ‘n oorsig oor die gebeure en die hofsaak gee. Beriggewing oor die hofsaak was gefragmenteerd omdat dit oor ‘n paar jaar gestrek het,” sê Susan.

Nadat die hofsaak afgehandel is, het sy sedert Augustus 2020 toegewyd en planmatig een dag in haar naweek, asook haar af dae vir oortydwerk gebruik om te skryf. Sy het ook verlof geneem om die boek teen April vanjaar te voltooi.

Susan geniet hofverslaggewing en het die meeste geleer toe sy in 1997 in haar eerste pos as joernalis by Vaalweekblad aangestel is. “Ek het baie by Retha Fitchat geleer wat as hofverslaggewer later tot nuusredakteur bevorder is. Ek moes toe by haar as hofverslaggewer oorneem. Ek  het aanvanklik gevoel ek is bietjie in die diepkant ingegooi, maar dis hoe ek die meeste geleer het,” lag Susan.

Sy hou die meeste van haar huidige pos waar sy hofverslaggewing met gewone verslaggewing afwissel, maar as sy móét kies, kies sy beslis hofverslaggewing. “Vir my is hofverslaggewing baie interessant. Ek hou van die hofproses wat voor jou ontvou, hoe die getuienis gelewer word, hoe die regter/landdros uiteindelik die getuienis opweeg om tot ‘n beslissing te kom. Dit is interessant om te sien waarna hulle kyk en wat hulle oorweeg. Hofverslaggewing is aan die een kant baie tydrowend, want jy moet lang ure in die hof spandeer, maar aan die ander kant is dit maklik omdat jy al die inligting kry. Jy hoef vir niks te gaan soek nie. Inteendeel, jy mag weinig skryf wat nie in die hof getuig word nie,” sê sy. Vir haar is hofverslaggewing uitdagend omdat die verslaggewer met ‘n magdom inligting sit en dan moet besluit watter inligting die belangrikste is en uit watter invalshoek ‘n berig geskryf moet word.

Die hofsaak oor die Stella-moorde was vir Susan tragies. “Dit is hartseer om te sien hoe familielede van die slagoffers en die beskuldigde ná so ‘n wrede daad ly. Enige moord is skokkend, maar wat vir my met die hofsaak uitgestaan het, was die omstandighede rondom die hofsaak. “Die twee jong meisies wat vermoor is en die moordenaar wat dit na selfmoord wou laat lyk. Dit het alles op ‘n plattelandse dorpie gebeur waar die gemeenskap meer veilig behoort te wees. Dan was daar ook ‘n intense liefdesintrige tussen die jongmense. Gewone mense het empatie met die familielede van die slagoffers gehad, want hulle kon hulself met hul identifiseer. Dit het mense se nuuskierigheid geprikkel,” sê Susan.

Volgens haar het die wreedheid van die moorde verder aandag getrek. Marna is met ‘n voorwerp agter haar kop geslaan. Daar het van haar hare in die gang gelê, waaruit ‘n mens kon aflei dat sy moontlik in die badkamer waar haar lyk gevind is, gesleep en daar verwurg is. Sharnelle is weer verwurg totdat sy haar bewussyn verloor het. Daarna het Xander haar aan ‘n tou opgehang terwyl sy nog geleef het, sodat dit soos selfmoord moes lyk.

Die binneverhoor, waarna Xander se aanvanklike skuldbekentenis wel toegelaat is, het die saak verder gekompliseer. Ander getuienis het egter ook die inhoud van sy bekentenis gestaaf. Die boek lees maklik en is baie boeiend met besonderhede uit hofverslae wat Susan in die boek verwerk het. Sy het ook die sielkundige verslag van Xander bekom waaroor nie volledig in die hof getuig is nie. Dié verslag bevat interessante inligting oor Xander se kinderjare wat nog nie tevore gepubliseer is nie. Getuienis is in die hof gehoor dat Xander Sharnelle na bewering hardhandig behandel en glo tevore al gewurg het. Hy was na bewering jaloers en wou alle doen en late van Sharnelle beheer – “alles tekens wat mens agterna as gevaartekens kan interpreteer,” sê Susan.

Die grootste uitdaging vir Susan was die onderhoude met die ouers van die tieners wat by die moord betrokke was. Hoewel sy tydens die hofsaak die ouers probeer nader het, en selfs met Xander se ma en pa asook met Sharnelle se ma en pa gesprekke kon voer, was Marna se ma, Rianet Engelbrecht, baie mediasku. “Ek neem haar nie kwalik nie. Ek sou waarskynlik dieselfde opgetree het. Vir die boek moes ek dus al my moed bymekaarskraap om haar te nader,” vertel sy. Ná die hofsaak, terwyl sy besig was met die boek, het Susan Rianet se selfoonnommer op Facebook opgespoor. Sy het vir haar ‘n WhatsApp gestuur om te vra of sy met haar kan praat. “En toe sê sy ja, ek kan haar terugskakel,” vertel Susan verwonderd soos toe sy dit aanvanklik beleef het. “Ek wou graag vir die laaste hoofstuk in die boek met al die ouers praat, ook Xander se ouers. Ek wou hoor waar hulle nou met die verwerkingsproses staan. Ironies wou niemand met my hieroor praat, behalwe die vrou wat die media van die begin af vermy het nie – Marna se ma, Rianet.”

Susan het Rianet en Marna se sussie, Riané, in Vryburg besoek. Vir Susan was dit ‘n wonderlike onderhoud. “Sy (Rianet) is so ‘n stylvolle vrou. Sy het openlik oor haar emosies gepraat. Sy het gesê sy wou wag totdat die verhoor verby is, voordat sy met die media praat. Die onderhoud met haar het die boek op ‘n hoogtepunt afgesluit,” sê Susan.

Die Stella-moorde is by boekwinkels te koop en kan ook bestel word by www.lapa.co.za.

‘n Boekteken-geleentheid word vir 26 Junie in die Mooirivier Mall beplan. Belangstellendes kan by dié geleentheid ook met Susan oor die boek gesels. Hou sosiale media dop vir meer besonderhede.

Related Articles

Back to top button