NewsNews

Gin-stokers van Potch wen goud

Simon (SJ) du Plooy en Cecil Rutherford van Potchefstroom is onlangs met twee goue toekennings vir twee van hulle drie inskrywings bekroon.

Fynproewers Simon (SJ) du Plooy en Cecil Rutherford het na drie jaar van swoeg en sweet uiteindelik die vrugte van hulle eksperimentering gepluk om gin drankies met die beste smaak te stook. Hulle is onlangs by die South African Gin Craft Awards met twee goue toekennings vir twee van hulle drie inskrywings bekroon. Hulle maatskappy, Dome Distillery, het amptelik in Februarie 2019, net betyds vir die inperking, geopen, spot Simon.

Maar hulle het hulle nie laat onderkry nie en stook sedertdien drie uitgesoekte gins wat hulle aan die meeste drankwinkels en restaurante in Potchefstroom en Parys verskaf. Die bottels met die stylvolle etikette wat granietformasies in die koepel uitbeeld, gee aan hulle gin ‘n eiesoortige karakter.

Simon (SJ) du Plooy by die twee sertifikate en die drie soorte gin wat hulle plaaslik vervaardig. Foto: Venessa van der Westhuizen

Simon is baie trots en opgewonde oor hulle prestasie en verduidelik graag watter speserye en blomme hulle alles uitgetoets het. Volgens hom begin alles met ‘n klassieke gin wat hoofsaaklik met die jenewer-bessie gestook word. Daarna word ander geure bygevoeg om dit diepte te gee wat glad nie die jenewersmaak mag oorheers nie. Vir hulle klassieke gin inskrywing het hulle ‘n goue toekenning gewen.

Hy verduidelik verder dat hulle drie geure baie mooi beplan het. “Behalwe vir ons klassieke gin, wou ons ‘n gin skep wat tipies Suid-Afrikaans is en een wat weer heeltemal eksoties is. Ons eksotiese gin getiteld, Lime Bluebellvine, het weggestap met ‘n dubbel goue toekenning. Dié gin is ‘n fyn kombinasie van klassieke gin gemeng met Asiese lemmetjieblare wat ‘n vars sitrusgeur daaraan verleen. Die bluebell blommetjies verleen weer ‘n blommegeur en verskaf aan die gin die mooi blou kleur,” verduidelik Simon.

Simon du Plooy in die distelleerdery. Foto: Venessa van der Westhuizen

Hulle Suid-Afrikaanse pienk gin is hulle gewildse verkoper. Die gin word die Rooibos en Hibiscus gin genoem en bevat die aardse geur van die rooibos en die blommegeur van die Hibiskusblom wat weer diepte en die pienk kleur aan die gin verleen.

Dome Distillery bied ook proe-geleenthede by hulle distelleerdery in Potchefstroom aan. Hou hul Facebookblad dop vir die volgende geleentheid.

Related Articles

Back to top button