NewsNews

AfriForum maak redes vir appèl teen uitspraak van Modise-hofsaak bekend

AfriForum, wat namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsvernigings (NRDBV) teen die hofuitspraak van Thandi Modise appelleer, het verlede Dinsdag (25 Mei) stukke op landdros Ben Mtebele beteken waarin die gronde vir ‘n appèl uiteengesit word.

AfriForum, wat namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsvernigings (NRDBV) teen die hofuitspraak van Thandi Modise appelleer, het verlede Dinsdag (25 Mei) stukke op landdros Ben Mtebele beteken waarin die gronde vir ‘n appèl uiteengesit word.

Landdros Mtebele het Thandi Modise, speaker van die parlement, se aansoek om ontslag einde April in die streekhof in Potchefstroom toegestaan en haar van verdere vervolging kwytgeskeld. AfriForum voer aan dat Mtebele verskeie regsdwalings in die hantering van die saak gemaak het onder meer dat hy die saak laat vaar het sonder dat Modise enige aanduidings gegee het watter stappe sy gedoen het om toe te sien dat daar na haar plaasdiere omgesien word.

Mtebele het sedert Dinsdag 15 dae om op die stukke te reageer en die redes vir sy beslissing te gee. Die hooggeregshof sal daarna na al die argumente kyk voordat hul sal besluit of hul verlof tot appèl sal toestaan.

AfriForum se regsspan, adv. Gerrie Nel en adv. Phyllis Vorster, voer aan Mtebele het nie geslaag om die regsbenginsels van ‘n bylae 174-aansoek om ontslag kragtens die Strafproseswet toe te pas nie. Hulle voer aan dat die aansoek om ontslag nie wetlik gesproke moes geslaag het nie omdat hulle sterk bewyse voorgelê het wat Modise moontlik skuldig kon bevind. Hulle lewer kritiek op Modise wat nooit self in die hof getuig of ‘n verklaring afgelê het nie maar dat Mtebele haar weergawe sonder behoorlike gronde aanvaar of afleidings daaroor gemaak het.

Mtebele het ook bevind dat die plaaswerkers  eintlik aangekla moes gewees het en dat AfriForum nie daarin kon slaag om ‘n prima facie-saak teen Modise te bewys nie. Volgens AfriForum was die bevinding dat daar ‘n oorhandiging van verantwoordlikhede aan een van die plaaswerkers (Moakedi) ‘n regsdwaling is omdat Modise ontken het sy het hom ooit aangestel. “Die enigste logiese afleiding is dat Modise niemand aangestel het om na haar diere om te sien nie”, lui AfriForum se hofstukke. Volgens AfriForum het die hof die plaaswerkers die sondebokke gemaak hoewel hulle geensins self vir die diere kon voorsien nie.

AfriForum noem ook voorbeelde van Mtebele wat selektief met die getuienis omgegaan het, terwyl  daar tydens ‘n aansoek om ontslag die gevestigde praktyk is dat ‘n hof met die vervolging al die bewyse en getuienis wat voorgelê word in ag moet neem. So het die hof  ‘n leek se getuienis oor die ontoereikendheid van voer op die plaas bo dié van die voedingkundige, Ferdie van Aswegen, aanvaar. Nimrod Thoaele, wat geen landbou-agtergrond het nie, het getuig daar was na sy mening genoeg dierevoer op Modise se plaas al het hy nie die voer gesien nie en net na ‘n faktuur verwys van voer wat aangekoop is. Van Aswegen het weer getuig hy het agt maande voordat die NRDBV op honderde uitgeteerde en dooie diere op Modise se plaas afgekom het, gesien het daar is nie genoeg voer nie.

Die getuienis van die plaaswerker oor hoeveel voer daar was en hoe lank dit gehou het, het met berekeninge van Van Aswegen se kundige getuienis ooreengestem. AfriForum voer aan dat dié getuienis “geïgnoreer” is.

Mtebele het ook Mokaedi se getuienis verwerp dat hy (Mokaedi) na ongeveer twee maande die plaas verlaat het  omdat hy nooit betaal is nie, die voer te min was en dat die varke op ‘n streep begin vrek het. AfriForum voer aan hierdie verwerping van getuienis was “irrasioneel” omdat drie ander getuienis – Grace de Lange (NRDBV), dr. Sameer Abbas (veearts) en Ferdie van Aswegen (voedingkundige) – se weergawes van wat hulle op die plaas aangetref het Mokaedi se getuienis gestaaf het.

Die mediawoordvoerder by die plaaslike streekhof, Pule Mpolokeng, het gesê landdros Mtebele sal later kommentaar lewer.

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button