NewsNewsSportSport

Dorado-hengelaars trek grotes uit

Verskeie lede van Dorado Skibootklub van Carletonville het die afgelope paar weke die klub, dorp én provinsie se naam hoog gehou.

Een van die klub se ster-lede, Mariette Hendriksz, was deel van ‘n spesiale vrouespan wat van 26 tot 30 April in St Lucia aan die nasionale roofvis hengeltoernooi deelgeneem het. Dié span, wat uit Mariette en Alta Matthews (Griekwas), wat ook ‘n Dorado-lid is, en Lize Smit van Mpumalanga bestaan het, moes teen 12 provinsiale mansspanne, sowel as ‘n Suid-Afrikaanse mansspan en ‘n SA Meesters mansspan, wat net uit hengelaars met Protea-kleure bestaan het, meeding. Mariette het nie net daarin geslaag om ‘n seilvis met lyn met ‘n breekkrag van net 6 kg te vang nie, maar stel ook ‘n nuwe Afrika-rekord op toe sy ook ‘n geelvin-tuna van 16.4 kg met lyn met dié breekkrag boot toe bring. Dié prestasies laat die vrouespan die algehele vierde plek in die toernooi, bo beide die nasionale mansspanne, inpalm. Intussen het vier lede van Dorado Skibootklub as die Gauteng-span van 10 tot 15 Mei aan die “All Inland” interprovinsiale toernooi in Sodwana deelgeneem. Dié span het uit Mariette, Jaco Hendriksz, Barné Yzelle en Jaco Huysamen bestaan. Hul span het hier met die wenplek weggestap nadat Mariette ‘n geelvin- tuna van 19.6 kg op lyn met ‘n breekkrag van 10 kg uit die water getrek het en hiermee nóg ‘n Afrika-rekord opgestel het. Sy hou nou die Afrika-rekords vir die grootste geelvin-tuna’s op 6kg, 10 kg en 24 kg breekkrag lyn.

Jaco Huysamen en Jaco Hendriksz het ook seilvisse van onderskeidelik 40 kg en 25 kg uit die water getrek terwyl Barné ‘n koning-makriel van 13 kg boot toe gebring het. Dié vangste het verseker dat die Gauteng-span meer as dubbel die punte van hul naaste teenstanders behaal het. Mariette het nóg ‘n prestasie behaal toe sy tydens die opwarming vir die nasionale roofvis hengel-toernooi ‘n marlyn van 30 kg met lyn met ‘n breekkrag van net 6 kg boot toe gebring het. Dít het haar maar die derde lid in die geskiedenis van Dorado Skibootklub gemaak wat dié prestasie kon behaal. Piet Joubert kon dit in die 1980’s regkry terwyl haar seun, Jannas, dieselfde prestasie tydens die nasionale kampioenskap in 2016 kon regkry. Jaco Hendriksz het ook ‘n seilvis van 30 kg tydens die opwarming vir die “All Inland” toernooi inkatrol. Al die visse wat tydens die kompetisie gevang is, is weer vrygelaat.

Related Articles

Back to top button