NewsNews

Historikus by Totiushuismuseum gee weer lewe aan die geskiedenis

Die restourasie en herstelwerk wat AfriForum onlangs by die Totiushuismuseum in Potchefstroom gedoen het, maak ons opnuut weer van ons erfenis bewus. Die museum was vir lank gesluit nadat die vorige vakkundige bedank het, maar na jare is daar weer nuwe lewe.

Die restourasie en herstelwerk wat AfriForum onlangs by die Totiushuismuseum gedoen het, maak ons opnuut weer van ons erfenis bewus. Die museum was vir lank gesluit nadat die vorige vakkundige bedank het, maar na jare is daar weer nuwe lewe.

Danell de Wet is einde verlede jaar as die nuwe museumhistorikus aangestel en sy is vol ywer om weer vir volwassenes en kinders die interessante geskiedenis van Totius en sy familie te ontsluit. Met ‘n meestersgraad in erfenis en kultuurtoerismebestuur is sy ook ‘n kundige in geskiedenis en toerisme. Sy was van kleins af lief vir geskiedenis en dit is vir haar ‘n voorreg om juis by ‘n huismuseum soos die te werk. “Die huis het soveel atmosfeer en ons is eintlik bevoorreg om ‘n huismuseum met soveel outentiekheid te hê,” sê sy.

Die meeste oorspronklike meubels, gebruiksvoorwerpe en kunswerke van die digter,  Bybelvertaler en teoloog, Jacob Daniël du Toit (Totius), word steeds in die huis uitgestal.

Danell in Totius se studeerkamer. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die huismuseum was die eerste rektorswoning van die Gereformeerde Kerk se teologiese skool en die eerste inwoner, prof. Jan-Lion Cachet, het in 1905 hier ingetrek. Hy het op een voorwaarde van Burgersdorp na Potchefstroom verhuis, en dit was dat sy huis weer net so oorgebou word. Sy huis in Burgersdorp het dus dieselfde vloerplan as die Totiushuismuseum. Totius en sy gesin het in 1911 in die huis ingetrek nadat hy Cachet as rektor opgevolg het. Hulle het tot in 1924 hier gewoon.

Minstens vier van Totius se digbundels het in die huis ontstaan en hier het hy ook aan die Bybelvertaling en die Psalmberyming gewerk. Danell sê die besoeke van skoolgroepe het tot stilstand gekom met die huis wat so lank nie ‘n historikus gehad het nie, maar dit is geleidelik besig om te verander.

Sy nooi die publiek en skole om weer die huismuseum te besoek. “Ons deel graag skoolgroepe in kleiner groepies en neem hulle deur die museum terwyl die res buite besig gehou word. Die kinders geniet die museum baie en raak opgewonde oor die kleinste besonderhede. Hulle is byvoorbeeld baie gefassineerd dat die wasgoedmandjie in die badkamer groter as die bad is”, lag sy. Hulle merk ook graag die interessante broodrooster en groot Bybel in Totius se studeerkamer op.

Danell in die badkamer van Totiushuis waar kinders verstom staan oor die klein bad en groot wasgoedmandjie. Foto: Venessa van der Westhuizen

Besoekers wat graag die huismuseum saam met Danell wil besigtig, kan haar vooraf vir ‘n afspraak by  (018) 299 5047 skakel. Besoekure is van Maandag tot Vrydag van 09:00-13:00 en van 14:00-16:00.

Die Totiushuismuseum vorm deel van vier historiese geboue wat die Gereformeerde Kerk destyds gebou het om die Skool, die studente en die rektor te huisves.  Die Voorbereidende Skool is  waar voornemende studente hulle matriekeksamen afgelê het en het voorheen die Totius Akademie gehuisves. Aan die anderkant van die huismuseum is die teologiese skool en daarnaas die woonkwartiere van die studente.

Related Articles

Back to top button