CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Wanneer ’n juffrou se drome vlerke kry

Wanneer ’n juffrou se drome vlerke kry

Toe die Covid-19 pandemie Tammy Wall se drome om te gaan au pair in Amerika in 2020 aan skerwe laat spat het, was dié terugslag eintlik net ’n hupstoot vir ‘n nuwe geleentheid wat deur dié jong entrepreneur van Parys raakgesien is om haar eie “School on Wheels” te begin. Nou, minder as ’n jaar later, het die jong juffrou se drome inderdaad vlerke gekry, en is sy waar sy wil wees om haar droom uiteindelik te leef – in Little Rock, Arkansas.

Toe die Herald se susterskoerant Parys Gazette met haar gesels het, sou sy binnekort ook na Biloxi, Mississipi en daarna Washington DC, Virginia vertrek het. Maar maklik was dit nie aldag om uiteindelik in die “US of A” te kom nie, vertel Tammy. “Wat ‘n jaar! Wat ‘n proses! Maar ek het dit gemaak! Van ‘n juffrou tot ‘n au pair.” Sy vertel van die dag toe haar pa vroeg in 2020 gesê het dat hy sou help met haar kostes om na Amerika te kon gaan, en hoe sy vuur en vlam was om haar profiel op die databasis vir au pair-werk in Amerika te laai. Gelukkig was haar vliegkaartjie nog nie gekoop nie, en haar visum nie gefinaliseer toe die nuus van algehele inperking SA in Maart 2020 getref het, en buitelandse vlugte opgeskort is.

Toe die land uiteindelik oorbeweeg het na vlak 4 van inperking, het sy besef sy sal ‘n ander plan moet maak om ‘n inkomste te verdien, en het sy ‘n advertensie op Facebook geplaas dat sy na essensiële werkers se kinders sal kyk. ‘n Skoot in die donker – maar die reaksie was oorweldigend. Daar was versoeke vir van kleuters tot laerskoolkinders. So het haar “School on Wheels” begin waarmee sy laerskoolleerders gehelp het met huiswerk in grendeltyd. Vir kleuters het sy stimulasieprogramme aangebied wat sy saamgestel het met die ervaring wat sy oor die jare opgedoen het by die skole waar sy gewerk het. Toe inperkingsregulasies uiteindelik verslap, was daar steeds die uitdaging met internasionale reise, visum afsprake en meer. So moes sy uiteindelik vir twee weke in Namibië gaan bly voordat sy einde ten laas op die vliegtuig kon klim na Amerika wat sy vir die volgende jaar of twee huis sal noem.

“Dis ongelooflik hier! Maar anders….een ding van Amerika is dat hulle verseker ALLES anders doen as die res van die wêreld.” “Maar my avontuurlustige droom het begin en ek geniet elke oomblik daarvan! Ek kon nie vir ‘n beter familie gevra het om saam met my, my droom en passie vir kinders te kan uitleef nie, en te studeer aan hierdie kant van die wêreld. “Ek het in die net meer as ‘n maand sedert begin Maart so baie beleef, plekke gesien, mense ontmoet, nuwe kos probeer en verseker baie lekkergoed geëet wat ons nie in Suid-Afrika het nie. “Ek het selfs al geleer hoe om aan die anderkant van die pad te bestuur… myle en kilometers al rondgery, hoewel ek soms nog aan die verkeerde kant van die kar wil inklim.

 

 Tammy Wall by Graceland, Elvis se ‘mansion’. Foto’s: Verskaf.

 

“Deel van my ervaring en tyd hier is die geleentheid om plekke te besoek en te gaan sien wat ek nog altyd wou – Memphis, Tennessee wat ongelooflik mooi was, Beale str, Graceland, Mud Island…’n absolute belewenis! “Little Rock waar ek nou tans bly is so mooi groen en hier is so baie bome! Oerwoud op sy eie. Selfs die geboue is iets besonders,” gesels sy. Waarna sy die meeste verlang is haar mense en haar hond. “Ek het nooit gedink ek sal dit so mis om Afrikaans te praat nie, maar doen verseker! “Ek sal kan doen met ‘n skaaptjoppie en bietjie biltong met vet.” Tog sien Tammy die geleentheid as ‘n groot seën met haar droom wat nou uiteindelik realiteit geword het, en nog skaars begin het.

 

“Ek is in die wolke en gaan nou vir ‘n hele rukkie hier bo rondsweef en hoog vlieg!”

Op ‘n vraag of sy jongmense sal aanraai om hul vlerke te sprei, is Tammy se antwoord onomwonde ‘ja’. “Dit was ‘n gevoel van opgewondenheid en onsekerheid om alleen in die vreemde in te gaan en net dadelik ‘okay’ te moet wees, maar alles is absoluut die moeite werd. “Vriende en familie is net ‘n oproep weg. Dankie tog vir ‘video calls’.”

En sal sy terugkom? Beslis, want sonder ‘n bord boerekos wil sy nie vir té lank wees nie, sê dié juffrou wie se hart nog trots vir haar land klop.

 

Related Articles

Back to top button