CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Bybel na 150 jaar weer in familiehande

Die storie van ‘n Engelse Bybel wat na meer as 150 jaar uiteindelik in die hande van ‘n agterkleinkind beland, is die onderwerp van dr. Danie Langner se praatjie wanneer die genealoë weer Saterdag, 15 Mei om 10:00 by die Potchefstroomse Hoofmuseum (Sol Plaatjie-laan) vergader.

Die storie van ‘n Engelse Bybel wat na meer as 150 jaar uiteindelik in die hande van ‘n agterkleinkind beland, is die onderwerp van dr. Danie Langner se praatjie wanneer die genealoë weer Saterdag, 15 Mei om 10:00 by die Potchefstroomse Hoofmuseum (Sol Plaatjie-laan) vergader. Alle belangstellendes is welkom.

Dr. Langner, uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en hoofleier van die Voortrekkerbeweging van Suid-Afrika gaan vertel hoe die Britse Setlaars in die Oos-Kaap die Bybel in 1837, tydens die Groot Trek, as ‘n blyk van waardering aan die Voortrekker, Jacobus Uys geskenk het.

In 1837 het die Uys-trek, wat bestaan het uit ongeveer 23 ossewaens en meer as 100 mense, uit die omgewing van Uitenhage, na die binneland vertrek. Dr. Langner is ook onlangs as die uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting aangestel.

Die FAK, Erfenisstigting en die Voortrekkermonument beywer hulle vir die bewaring en bevordering van die Afrikanergeskiedenis en Suid-Afrika se geboue-erfenis. Hierdie drie organisasies het die daad by die woord gevoeg toe hulle gesamentlik die voortou geneem het om die Voortrekkermonument uit sy finansiële verknorsing te red. Die Voortrekkermonument se grootste bron van inkomste is sy toegangsgelde. Tydens die Covid-pandemie het hul besoekersgetalle drasties gedaal. Die FAK het ook onlangs ‘n beloning van R20 000 aangebied vir die terugvind van die brons borsbeeld van genl. Koos de la Rey, wat in April vanjaar uit die Lichtenburg-begraafplaas gesteel is.

Danie gaan ook gesels oor die formidabele rol wat dr. Nicolaas Johannes van der Merwe in die stigting van die FAK, asook die Voortrekkerbeweging in Suid-Afrika gespeel het. Dr. Van der Merwe was die eerste voorsitter van die FAK en eerste nasionale leier van die Voortrekkerbeweging. Hy het sy eerste lewenslig as die jongste van sewe kinders op Senekal aanskou en tydens die Anglo-Boereoorlog die konsentrasiekamp op Norvalspont oorleef.

Vir meer inligting oor die aktiwiteite van die Noordwes-tak van die Genealogiese Genootskap kan Simon du Plooy by sjduplooy@mweb.co.za of Elmarie Weyers by elmarieweyers2014@gmail.com gekontak word.

Related Articles

Back to top button