NewsNewsSportSport

Jong atleet presteer wéér op die baan

‘n Jong atleet van Carletonville het die afgelope naweek tydens ‘n provinsiale byeenkoms wéér stof in die oë van haar teenstanders geskop.

Die tienjarige Mikayla Smith van die bekende Smithathons Atletiekklub het die afgelope week gewys dat sy vanjaar reg is vir aksie.
Dié klub se afrigter en Mikayla se ouma, Annatjie Smith, sê Mikayla het weer haar staal tydens ‘n interprovinsiale byeenkoms in Potchefstroom gewys. Sy het die 100 m item en ook in die hoogspring gewys wat in haar steek toe sy al haar opponente in die stof laat byt het.
Mikayla moes egter direk na die hoogspring aan haar volgende item, die 80 m, gaan deelneem.
“Die arme kind het nie eers kans gehad om te rus, toe moes sy oor die veld stap na die 80 m toe,” sê Annatjie.
Mikayla het egter steeds haar wedloop-wen, maar het later gehoor dat sy algeheel net-net tweede was omdat daar nóg ‘n wedloop oor dieselfde afstand was.
“Sy is ongelooflik sterk met haar klein lyfie en het stamina en die deursettingsvermoë om goed tydens die SA’s te doen,” sê Annatjie.
Aangesien die SA’s egter eers in November in Pietermaritzburg gaan plaasvind, gaan Mikayla vir twee maande volgens Smithathlons se winter-oefenprogram, wat uit baie pad- en kragwerk bestaan, oefen. Sy gaan dan twee maande elk volgens die middel-seisoen program en die binne-seisoen program oefen sodat sy sterk genoeg kan wees vir die SA’s.
Mikayla is ‘n leerling van Laerskool Dagbreek.

Related Articles

Back to top button