NewsNews

Weermagvrou onthou die baanbrekende klas van 1971

“Ons was die baanbrekers en het as vrouens bewys dat ons in die weermag kan werk. Ek is trots om in die eerste groep te kon wees."

‘n Trotse pionier en bedrewe baanbreker is slegs twee maniere om die huidige Potchefstromer en oud-Bloemfonteiner, sersant Elsabé Louw, te beskryf. Louw (néé Bester) is een van die 128 uitgesoekte groep dames wat in 1971 by die Burgerlike Beskermingskollege (later SA Leërvrouekollege) in George aangesluit het om militêre opleiding vir vroue te kry. Dit is die eerste keer in Suid-Afrikaanse geskiedenis dat vroue toegerus is om in die weermag diens te kan doen.

 
Elsabé Louw is een van die eerste groep vroue wat deel was van die SA Weermag. Sy het in 1971 by die Burgerlike Beskermingskollege in George aangesluit. Hier is sy met ‘n foto uit daardie jare. Foto: Wouter Pienaar

Vanjaar is die 50ste herdenking van hierdie geskiedkundige oomblik wat baie deure vir vroue oopgemaak het. “Ons was die baanbrekers en het as vrouens bewys dat ons in die weermag kan werk. Ek is trots om in die eerste groep te kon wees en dit is vir my belangrik dat ek ‘n rol kon speel. Om eerste te wees was die beste, omdat ons al die doemprofete kon verkeerd bewys,” vertel Louw, wat ook een van 32 dames was wat voltyds by die SA leër aangesluit het. In die vroeë sewentigs is talle samesprekings gevoer. Daar is besluit dat dié kurrikulum saamgestel word sodat die dames nie as soldate opgelei word nie, maar as gemeenskapsleiers wat met selfvertoue in nood en ramptoestande kan optree.

 
 

In daardie jare was dit ‘n reuse stap wat heeltemal nuut en ongewoon was, maar in nadenking uiters suksesvol uitgevoer is. “Ek het op die radio van die kollege gehoor en my grootste ideaal was om ‘n uniform te dra en by die vloot aan te sluit. In daardie jare was daar nog nie ‘n geleentheid vir vroue om by die vloot aan te sluit nie, so toe dink ek hierdie kollege is ‘n goeie geleentheid. Dit was vir my ouma-hulle die skok van hul lewe toe hulle hoor ek wil weermag toe gaan.” Louw vertel dat die keuringsproses naelbyt was, aangesien sy vantevore geen militêre opleiding gehad het nie. “Daardie gewag was nogal moeilik, maar om voor die hele paneel te staan met die keuringsproses het my vlinders in my maag gegee. Toe die formele weermagdokument in die pos kom, was ek en my gesin in die wolke dat ek aanvaar is. Ek was een van die gelukkige 128 wat gekies is,” vertel sy. “Ons het ‘n treinkaartjie gekry om George toe te gaan. Ons het aan die einde van Januarie 1971 aangekom, ons kit gekry en vanaf 1 Februarie het ons begin,” onthou sy. Nog ‘n aspek wat Louw goed onthou was dat almal nommerpas in uniform dieselfde gelyk het. “Ons het almal dieselfde klere vir daardie hele jaar gedra. My siviele klere is in stoorkamers gestoor. Ons is gedril en ons het niks van links en regs geken nie. Ons was rigtingloos in die begin maar dit was pret en ons het vinnig geleer.”

Elsabé in Staandemag uniform as n Korporaal gedurende 1972 te Oudtshoorn. Foto: Verskaf

Louw noem dat hulle noodhulp, tuisverpleging, kuns en kultuur, onthaal, bestuur en onderhoud, telekommunikasie sowel as liggaamlike opvoeding gehad het om fiks te bly. “Ons moes elke dag die Outeniqua-pas en berge uitloop en draf sodat ons fiks gebly het. Een van die lekkerste aspekte was die parades waaraan ons deelgeneem het. Dit het bewys dat vroue ook in die weermag hoort.” “Om Bedford-militêre voertuie en sedan motors te moes leer bestuur was een van die hoogtepunte. Ons moes ook as kelnerinne kon optree en die fynere punte van vrouwees leer. Dit was belangrik om ook steeds vroulik te lyk en aandag aan ons voorkoms te gee. Ons het bruin krimpelene broeke en mosterd gekleurde hemde deur die dag gedra. Ons het ook ‘n uitgaan-uniform gehad waarin ons kerk toe gegaan het,” noem sy. Louw vertel ook dat hulle smarag-groen uniforms met ‘n pet tydens parades gedra het.

Elsabé in haar verpleegstersuniform op pad om aan diens te gaan by George Hospitaal. Foto: Verskaf

“Ons vroue is genooi om aan die Republiekfees in 1971 deel te neem. Ons was die heel laaste linie wat aangekom het waar ons ‘n staande ovasie van die publiek ontvang het,” onthou Louw. Op 10 April 1971 open PW Botha (destydse Minister van Verdediging) amptelik die Kollege. In sy toespraak het hy onder andere gesê: “Die oprigting van die Kollege is ’n daad van vertroue in die vroue van die land. Hierdie meisies is toekomstige leiers. Hulle is fyn gekeur uit baie aansoeke.”

‘n Berig oor die Burgerlike Beskermingskollege wat in die Vaderland gepubliseer is.

“Ons was baie trots wat ons in die drie maande van opleiding kon doen en aan die vertroue wat die minister en almal in ons gehad het kon voldoen. Die kollege se bevelvoerder was kol. MJ du Plessis met kol. Hilda Botha wat tweede in bevel was. Omdat dit PW Botha se idee was om die kollege op te rig, was ons ook bekend as die ‘Botha Babes’,” noem sy. Louw vertel dat sy ook leer skiet het met handwapens, R1’s en 9mm submasjiengewere. “Daarmee kon ons brons, silwer en gouebalkies kry en onsself daarin bevorder. Dit was veral lekker omdat ons nog nooit voorheen gewere hanteer het nie,” noem sy. Roetine was ook een van die groot aspekte van die kollege waar ‘n spesifieke opstaantyd, slaaptyd en inspeksies die norm was.

Die Burgerlike Beskermingskollege tydens die Republiekfees van 1971.

“Elke Vrydag sou daar inspeksies wees waar alles mooi skoon en netjies moet wees. Daar mag geen stoffie wees nie, anders staan jy Saterdag weer vir inspeksie op jou afdag. Dit was ‘n riller omdat ons op ons knieë ons vloere moes politoer en koper skuur. Die bed opmaak was ook ‘n storie en ‘n half. Daar mag nie een hoekie verkeerd wees nie. Dit het my so gemotiveer om daardie Oktober by die staande mag aan te sluit.”  Die eerste jaar by die Kollege was sodoende die perfekte leerskool vir Louw wat vir die volgende ongeveer 15 jaar in die weermag gedien het. Nie net was die weermag ‘n gulde geleentheid vir Louw op werksvlak nie, maar ook die platform vir liefde aangesien sy haar, man RSM: AO1 André Louw, ontmoet het. “Ek was baie bly toe ek kon aansluit en op daardie stadium het ons voorberei vir die uitpassering in November 1971. Ek het middel Januarie 1972 kommandement Suid-Kaap en Oudtshoorn gekry waar ek my man André ontmoet het,” vertel Louw wat eers in die logistieke afdeling gewerk het en toe vanaf 1977-1986 by die Panserafdeling by OVS (Vrystaat) diens gedoen het. Sy het later tot in 2000 by ‘n ouditeursfirma gewerk voordat sy ‘n tuisteskepper geword het. Haar man het in 2000 die Weermag verlaat.

Hoofgebou van die Burgerlike Beskermingskollege

“Ek het by die Kollege geleer wat kameraadskap is. Ons het lekker gekuier en saam gewerk en omdat ek nooit op skool in ‘n koshuis was nie, was dit lekker om toe deel daarvan by die kollege wees. My kamermaat het toe ook by die staande mag aangesluit – dit het ons eers onlangs by die reüniegroep op WhatsApp agtergekom,” noem sy. “Die dissipline wat ons geleer het was die grootste aspek wat ons saam met ons gedra het, so ook om selfstandig op te tree en jou eie keuses te kan maak. Die leuse ‘Wees Gereed’ is ‘n teken dat ons altyd vir enige taak moet reg wees.” Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: https://potchefstroomherald.co.za/85863/weermagvrou-onthou-die-baanbrekende-klas-van-1971/

Related Articles

Back to top button