NewsNews

Ou begraafplaas ‘n nagmerrie

Fochville se ou begraafplaas was dié week só vuil dat inwoners nie eers by die hek kon inkom om hul geliefdes se grafte te besoek nie.

Volgens ‘n lewenslange inwoner van die dorp, mnr. Pieter Hoffman (76) het hy Maandag ‘n groot skok gekry toe hy by die begraafplaas aankom.

Sy ouma en oupa, ouers, suster, neefs en niggies en sy enigste dogter, wat maar 10 maande oud was toe sy in 1972 oorlede is, is in die begraafplaas begrawe. Behalwe dat die gras in die begraafplaas byna net so hoog en op plekke hoër as die grafte was, was daar soveel gemors en tuinvullis voor die ingang gegooi dat hy nie eers kon inloop om sy naasbestaandes se grafte te gaan skoonmaak nie.

“Dit is hartverskeurend om een van Fochville se belangrikste erfenisgebiede in só ‘n toestand te sien. Die stadsraad het geen gevoel of simpatie vir ons as naasbestaandes van die oorledenes nie.

“Is daar dan nie ‘n begroting vir die skoonmaak van die begraafplaas nie,” het Hoffman gekla. Hoffman was só ontsteld dat hy Dinsdag ‘n vergadering met ‘n raadslid van die dorp, mev. Almé Rowles-Zwart gehou het.

Die Herald het ook Dinsdagoggend die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit gevra wanneer hulle die begraafplaas gaan skoonmaak.

“Die begraafplaas sal op die laatste voor die einde van volgende week skoongemaak word,” het ‘n munisipale woordvoerder gesê. Hoffman het egter laat weet dat die munisipaliteit reeds teen Dinsdagmiddag met die werk begin het.

Related Articles

Back to top button