CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Die groot skrik in die fliek

Ai ja, laat 'n mens nou so vir ou Rambo kan skrik in die fliek!

Ek was in die laerskool toe ek die eerste keer ‘n fliek in ‘n bioskoop gesien het. Dit was in Vereeniging.

Die bioskoop was nog nie lank oop nie, toe neem my nig Bessie vir my en haar jonger sus fliek toe. Bessie het toe al ‘n motor en lisensie gehad. Ons kon kies tussen Rambo en Mad Max. Anneke het op Mad Max besluit en ek en Bessie het Rambo aangedurf.

Ek kan nie meer onthou of dit Rambo First Blood 1 of 2 was nie. Daardie jare het ons nie altyd rolprente hier te siene gekry vlak na hul oorsee begin draai het nie.

Alles het goed gegaan totdat Rambo skielik met ‘n massiewe masjiengeweer regop uit ‘n moeras opspring en begin skiet.
Kyk, toe die gewapende, bebloede man groter as lewensgroot hier reg voor my verrys, toe skrik ek myself in ‘n benoude gil in. ‘n Harde een. Ek kan nou sweer sommer hartkloppings ook. Bessie kon nie ophou lag nie en Anneke wou my wysmaak sy het die gil deur Mad Max se geweld gehoor.
Ten spyte van die groot skrik in ry drie oor Rambo in die modder, het dit my nie afgesit om weer te gaan fliek nie. Om die waarheid te sê, toe Vanderbijlpark ‘n bioskoop met twee teaters kry was ek, en wie ook al wou saamgaan, byna weekliks daar.
Genre was nie belangrik nie. ‘n Fliek was ‘n fliek en dit moes gekyk word. Ek het net rillers vermy. Party flieks is net eenmaal gesien in die twee weke wat hulle gedraai het, maar ander, soos Top Gun was ‘n tweede kyk werd en Dirty Dancing 11 keer!
Dirty Dancing tel nog steeds onder my gunstelinge, maar ek is dankbaar dat ek die Stallone, Schwarzenegger en Van Damme films ontgroei het. Gegil in ‘n fliek, soos daardie dag met die Rambo-skrik het ek nog nie weer nie.
Hardop gelag, baie. ‘n Traan of twee gestort, natuurlik. Ten minste het ek (so ver) nog nooit luidkeels saamgesing soos wat my ma se een tannie twee keer gedoen het nie.
Hulle het destyds The Sound of Music en My Fair Lady in ‘n baie grénd bioskoop in Johannesburg gaan kyk. 
Dit was in die 1960s. My ma was ‘n tiener en sê sy wou elke keer onder die sitplek inklim van skaamte, maar gesing het die tannie lekker saam gesing!
 

Related Articles

Back to top button