NewsNews

Kragoptellers wys hul staal

Kragoptellers van regoor die land het verlede naweek tydens ‘n kompetisie by Fochville gewys wat in hulle steek.

Dié nasionale kompetisie, amptelik genoem die “SA Equipped Powerlifting Championships” is op ‘n plaas net buite die dorp gehou.

Soos in die verlede het van die plaaslike kragoptellers die omgewing se naam hoog gehou. Johan Smith het probeer om ‘n nuwe wêreldrekord in die hurksit-kategorie vir optellers van 120 kg op te stel. Hoewel hy ongelukkig net-net nie dié poging om 415 kg te hurksit kon behaal nie, het Smith steeds 380.5 kg gelig, wat aan hom die wenplek in sy afdeling besorg het. Hy het ook 290 kg in die “benchpress”-afdeling opgestoot en ‘n allemintige 300 kg in die “deadlift”-afdeling opgetel.

Intussen het sy neef, Roelof Smith, in die 120kg + afdeling 305 kg gehurksit, 230 kg ge-“benchpress” en 285 kg in die “deadlift”-afdeling opgetel. Albei het as deel van die Noordwes-span aan die kompetisie deelgeneem.

Marcelle Strydom, óók van Noordwes, het die afdeling vir beste sub-juniors gewen na hy 195 kg gehurksit, 105 kg ge-“benchpress” en 195 kg ge-“deadlift” het. In ander afdelings was Karabo Manamela van die Gauteng-span die beste junior met ‘n hurksit met 220 kg, ‘n “benchpress” van 120 kg en ‘n “deadlift van 220 kg. Graham Green van Gauteng het die Meester 1-klas met ‘n hurksit met 272,5 kg, ‘n -“benchpress” van 190kg en ‘n “deadlift” van 260kg gewen.

Steve Ogunfemi van Gauteng het die Meester 2-klas met ‘n hurksit met 247 kg, ‘n -“benchpress” van 120 kg en ‘n “deadlift” van 265 kg gewen. Andre Ludick, wat al die pad van die Oos-Kaap is, was die wenner van die Meester 3-klas met ‘n hurksit met 142,5 kg, ‘n -“benchpress” van 95 kg en ‘n “deadlift” van 170 kg.

Die Meester 4-klas is deur Dan Oppenheim van Gauteng met ‘n hurksit van 160 kg, ‘n “benchpress” van 100 kg en ‘n “deadlift” van 190 kg gewen. Die vroue-deelnemers het ook nie op hulle laat wag nie. Mijuane de Wet van Gauteng het beide subjunior en junior klasse met ‘n hurksit van 162 kg, ‘n “benchpress” van 80 kg en ‘n “deadlift” van 155 kg gewen. Intussen was Christi Rees, óók van Gauteng, die wenner van die ope-afdeling met ‘n hurksit van 205 kg, ‘n “benchpress van 165 kg en ‘n “deadlift” van 180 kg.

Jacqui Rees het die Meester 1-klas met ‘n hurksit van 193 kg, ‘n “benchpress van 107,5 kg en ‘n “deadlift” van 187,5 kg gewen.

Die inspanning wat nodig is om 305 kg te hurksit, was hier duidelik op Roelof Smith se gesig te bespeur.
Verskeie vroue het ook hul staal tydens die kompetisie gewys.

Related Articles

Back to top button