NewsNews

Skrywer deur Russe vereer vir navorsing oor Anglo-Boereoorlog

Nico Moolman, bekende skrywer-historikus en oud-inwoner van die Vaaldriehoek, is vroeër die maand deur die Russiese ambassade vereer vir sy navorsing oor die besondere verbintenis tussen die Boere en Russe gedurende die Anglo-Boereoorlog.

Die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, Ilya Rogachev, het op 17 Maart ‘n krans op die graf van ‘n Russiese soldaat wat in die oorlog aan die Boere se kant geveg het, in Utrecht, KwaZulu-Natal gaan lê. Die ambassadeur het die geleentheid benut om ook ‘n ere-aandenking aan Moolman te oorhandig.
Moolman, wat die grootste deel van sy lewe in Vanderbijlpark gewoon en gewerk het, bedryf deesdae sy huismuseum, Buskruit en Laventel, in Utrecht.
Hy het reeds 16 boeke geskryf, insluitend The Boer Whore, wat Francois Smith se debuutroman, Kamphoer, geïnspireer het.
Die gelyknamige eenvrouvertoning deur aktrise Sandra Prinsloo, wat tans landwyd opspraak wek, is ook hierop gebaseer.
Die aktrise Sandra Prinsloo, wat die karakter Susan Nell dramaties laat herleef het in haar eenvrouvertoning, Kamphoer. Die foto is deur Nicky J. van Vuuren geneem tydens Prinsloo se onlangse optrede in die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg.
Moolman het die grootste deel van sy navorsing vir The Boer Whore gedoen terwyl hy nog in die Vaaldriehoek gewoon het. Hy het deur die loop van sy navorsing, terwyl hy ware gebeure aangeteken het, op die hoofkarakter, Susan Nell, se verhaal afgekom. Susan is gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) in die Winburg-konsentrasiekamp deur Britse offisiere verkrag en vir dood agtergelaat.
Sy was egter net bewusteloos en het van die waentjie waarmee lyke daagliks na die begraafplaas vervoer is, afgeval. ‘n Sotho-man en -vrou het op die erg beseerde Susan afgekom en haar in ‘n grot weggesteek en versorg totdat sy sterk genoeg was om na Bloemfontein te reis, van waar ‘n Britse fotograaf haar gehelp het om per trein Kaap toe te gaan. Goedgesinde mense het haar gehelp om na Nederland te reis, waar sy as verpleegster opgelei is.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) is Susan na Engeland, waar sy in ‘n psigiatriese hospitaal in Devon een van haar destydse verkragters moes verpleeg. Die boek en verhoogdrama gee ‘n kykie in die ontsettende vernedering, verskriklike emosies en uiteindelik ook die katarsis wat Susan Nell in die proses beleef het.
Moolman en ‘n vriend, Wessel Oosthuizen, werk tans aan ‘n boek oor die geskiedkundige vriendskapsverhouding tussen die Boere en Russe. Die boek, Boere en Russe: Persoonlike vriendskappe, sal na verwagting in Mei verskyn en word later vanjaar ook by Moskou se Staatsuniversiteit bekendgestel.
* Nico en sy vrou, Naomi, was deur die jare baie betrokke by Lewenslig, ‘n sentrum vir breingestremde kinders en volwassenes in Vanderbijlpark, en besoek die sentrum steeds gereeld as hulle in die Vaaldriehoek kom kuier.
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
https://vaalweekblad.com/89669/skrywer-uit-vaal-deur-russe-vereer-vir-navorsing-oor-anglo-boereoorlog/

Related Articles

Back to top button