NewsNews

Fabriek word ‘stukkie vir stukkie’ weggedra

Metaaldiewe is besig om 'n 25 000 m² fabriek, wat glo aan die metaalreus ArcelorMittal behoort, stukkie vir stukkie weg te dra.

“Dit het begin met ‘n sinkplaat hier en ‘n sinkplaat daar maar nou word die fabriek teen ‘n skrikwekkende tempo uitmekaar gehaal,” vertel ‘n inwoner wat naby aan die fabriek bly.

Die fabriek is naby die Vereeniging se duikweg op die hoek van Generaal Hertzogweg en Mario Milanirylaan en staan glo as die Tosca-gebou bekend.

Die fabriek is naby aan die duikweg en die ingang na die middestad. Foto: Verskaf

“Mens hoor heeldag die geklingel van stukke metaal van die dak af val,” het ‘n inwoner aan Vaalweekblad vertel terwyl die metaaldiewe oorkant die straat gewerk het om stukke van die dak los te maak.

“Hulle is besig van die oggend tot die aand en doen dit helder oor dag sonder dat sekuriteitspersoneel, die maatskappy of die polisie iets daaraan doen,” vertel hy.

Metaaldiewe kom en gaan soos miere deur hierdie gat in die betonmuur. Foto: Christiaan Cloete

Tydens Vaalweekblad se besoek het ons verskeie mense by die perseel sien ingaan en uitkom deur ‘n stuk van die betonmuur wat afgebreek is.

Een van die metaaldiewe het dooduiters ‘n metaalsaag onder sy baadjie ingedruk toe hy ‘n aankomende polisiemotor gewaar het.

Die polisie, salig onbewus daarvan, het net verby gery.

Die verdagte, met metaalsaag in die hand, verlaat die perseel deur die gat in die betonmuur. Foto: Christiaan Cloete
Die verdagte druk die metaalsaag onder sy baadjie in. Foto: Christiaan Cloete
Die polisie ry verby, salig onbewus van die diefstal wat pas plaasgevind het. Foto: Christiaan Cloete

Kort daarna het ‘n ander man met ‘n reusagtige paal uit die fabriek se gronde gekom en oor die straat geloop.

‘n Man loop skaamteloos met ‘n gesteelde paal oor die straat. Foto: Christiaan Cloete

Meeste van die verdagtes het deur ‘n oop veld in die rigting van Vereeniging se stasie geloop.

Kapt. Fikile Funda, ‘n woordvoerder vir die polisie in Vereeniging, is vir kommentaar genader.

Hy het nog nie reageer nie.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Fabriek word ‘stukkie vir stukkie’ weggedra

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button