NewsNews

Arm oues met uitsetting gedreig, kragtoevoer voor Menseregtedag-langnaweek afgesny

Inwoners van Wag-‘n-Bietjie Hof is reeds met uitsetting gedreig, nou is hul kragtoevoer ook afgesny.

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het ‘n kennisgewing uitgereik en Donderdagaand 18 Maart is die oues se kragtoevoer boonop voor die aanvang van die langnaweek afgesny.

(Sondag 21 Maart is Menseregtedag wat beteken dat Maandag 22 Maart ‘n vakansiedag is).

Volgens hierdie kennisgewing wat deur die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se boubeheer-afdeling uitgereik is, is die gebou onveilig en gevaarlik en deur mense daar te laat bly is ‘n oortreding van artikel 12(1) van die wet op nasionale bouregulasies en boustandaarde. Foto: Verskaf

Wag-‘n-Bietjie Hof is ’n gebou by die Drie Riviere Aftreeoord wat oorspronklik langs die munisipale swembad in Drie Riviere gestaan het, maar later in kamers vir ouer mense omskep is.

Die gebou is oorspronklik as ‘n kleedkamer vir die munisipale swembad ontwerp en nie bedoel vir mense om in te bly nie. Foto: Chrristiaan Cloete
Die ingang na Wag-‘n-Bietjie Hof in die Fase 3 van die Drie Riviere Aftreeoord. Foto: Christiaan Cloete

Hulle weier om te trek en het nou regshulp sowel as die hulp van kerke en ander organisasies gevra om hulle uit hierdie penarrie te help.

Die moeilikheid het al verlede jaar begin toe Hanno Bekker ondervoorsitter van die Conference Development Trust (NCDT) – wat die ouetehuis namens die eienaar SEDCOM bestuur – inwoners in kennis gestel het dat die strukturele integriteit van die gebou gekompromiteer is deur jare van agteruitgang en swak bouwerk.

Hanno Bekker ondervoorsitter van die Conference Development Trust (NCDT) – die eienaar van die ouetehuis.

Inwoners is toe per brief in kennis gestel dat hulle teen 31 Januarie 2021 alternatiewe blyplek moes vind

Bekker het later aan Vaalweekblad verduidelik dat die gebou nooit bedoel is vir mense om in te bly nie. “Die gebou is oorspronklik as ‘n kleedkamer vir die munisipale swembad ontwerp. Dit is rondom staalpilare gebou. Die sement tussen die pilare het begin wegbrokkel en die gebou het begin sak.”

Daar bestaan kommer dat die gebou inmekaar kan tuimel. Foto: Christiaan Cloete
Die gebou is glo onveilig. Foto: Christiaan Cloete
Die mure is besig om te kraak. Foto: Christiaan Cloete

Bekker het benadruk dat die gebou struktureel onveilig is en sê dit is van die uiterste belang dat inwoners so gou as moontlik die gebou ontruim aangesien dit ‘n gevaar vir hulle inhou.

Bekker het ook ’n verslag aan Vaalweekblad getoon wat skynbaar hierdie bewering staaf.

Bekker het hierdie week gesê dat inwoners alternatiewe verblyf by die Adventhaven-aftreeoord buite Heidelberg aangebied is teen die selfde tarief as wat hulle tans by die Drie Riviere Aftreeoord betaal. Hy sê dat hoewel talle van die inwoners reeds die aanbod aanvaar het is daar ander inwoners wat weier om uit Wag-‘n-Bietjie Hof pad te gee.

Inwoners meen dat die skuif na die Adventhaven-aftreeoord buite Heidelberg hulle in veel minder gunstige omstandighede sal plaas. Meeste inwoners glo ook nie dat die gebou onveilig is nie en meen dit kan reggemaak word sonder om gesloop te word.

Volgens Gerrie Hadders, voorsitter van die Drie Riviere Aftreeoord, is hulle met geen ander keuse gelaat as om inwoners se kragtoevoer af te sny nie.

“As ons dit nie doen nie gaan Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit die hele Fase 3 se krag afskakel.”

Gerrie Hadders, voorsitter van die Drie Riviere Aftreeoord sê as hulle nie Wag-‘n-Bietjie Hof se kragtoevoer afgesny het nie sou Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit die hele Fase 3 se kragtoevoer afgesny het.

Volgens Hadders  het die sewe dae grasieperiode reeds vir inwoners verstryk.

“Onthou, dit is ‘n condemned building. As daar nou iets fout gaan met die elektrisiteit, wie gaan aanspreeklik gehou word? Ons, want ons het krag bly voorsien aan ‘n condemned building.”

*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie en kan moontlik opgedateer word na gelang van nuwe inligting.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Arm oues met uitsetting gedreig, kragtoevoer voor Menseregtedag-langnaweek afgesny

 

Related Articles

Back to top button