NewsNews

Só vind ook perde baat by chiro-behandeling

Só vind ook perde baat by chiro-behandeling

Hoewel chiropraktisynbehandeling vir die meeste van ons geen ongewone begrip is nie, en baie pasiënte al hierby kon baat, is die voordele van die behandelingsmetodes beslis nie net beperk tot die mens nie. Dit word ook met groot sukses op diere, veral perde, deur diere chiropraktisyns toegepas. ’n Skaars spesialisveld waarvoor daar tans net ses gekwalifiseerde diere chiropraktisyns in die land is. Hulle fokus op die behandeling van muskuloskeletale probleme en akute spanning en styfheid van die liggaam, om meer beweeglikheid te verseker en die werkverrigtingsvermoë by diere te verbeter. Die woord “chiro” beteken “by hand,” wat presies sê wat die chiropraktisyn doen – fisiese tegnieke om die ruggraat en hele lyf optimaal te laat funksioneer deur onder meer ruggraatmanipulasieterapie en manipulasie van ander litte en sagte weefsel. Eintlik is chiro-behandeling in Amerika gebore en gebaseer op wetenskaplike ondersoeke. Michiel Opperman wat al vir tien jaar praktiseer en gekwalifiseerd is as beide mens en diere chiropraktisyn, vertel meer oor dié beroep nadat hy onlangs twee perde by Edenvale Equestrian Yard in die Vredefort Koepel behandel het.

 

Michiel was ‘n professionele sportman voordat hy as chiropraktisyn aan die Universiteit van Johannesburg gekwalifiseer het – ‘n studie wat jou ses tot sewe jaar neem om te voltooi, afhangend van hoe lank jou marknavorsing neem vir jou finale jaar tesis, gesels Michiel. Op universiteit wou hy al die ‘perde-ding’ doen, maar dit het tyd gevat om eers sy gewone chiropraktisynspraktyk gevestig te kry en die regte tersiêre instelling te kry waar hy sy nagraadse kwalifikasie in diere chiro kon kry. Sy nagraadse kwalifikasie as diere chiropraktisyn het hy aan ACES in Texas, Amerika verwerf, wat vir hom nog ‘n verdere twee jaar agter die boeke beteken het. Daarna het hy sy raadseksamens by die American Vetenerian Chiropractic Associa-tion (AVCA) en by die International Vetenerian Chiropractic Association (IVCA) afgelê. Met dit agter sy naam kon hy in die buiteland praktiseer. Dit is ‘n baie lang en moeilike kursus, vertel Michiel, en daarom moet jy “ok wees met baie swot”. Toewyding om uiteindelik jou einddoel te bereik, is daarom beslis ‘n goeie eienskap as jy die beroep oorweeg. Omdat hyself gekwalifiseerd is om met mense sowel as diere te kan werk in sy beroep, moet jy “’n liefde hê vir al God se goedjies op aarde,” gesels hy. Vir sy dierepasiënte moes hy vanjaar reeds meer as vyf keer regoor die land vlieg en geniet hy die bonus daarvan om ook in die natuur te kan werk. As jy dus as diere chiropraktisyn wil praktiseer, moet jy bereid wees om te reis. Omdat Michiel saam met sy vrou (ook ‘n gekwalifiseerde chiropraktisyn), steeds as gewone chiropraktisyn ook praktiseer by hul praktyk in Newlands in die ooste van Pretoria, sluit sy pasiënte ook van pasgebore babas tot bejaardes en top atlete, in. Volgens Michiel is die mark baie groot vir diere chiropraktisyns – nie net in Suid-Afrika nie maar regoor die wêreld. “As jy die regte kwalifikasies en die regte agtergrond het, het jy eindelose werk.” Hy is by die mediese raad geregistreer by AVCA, IVCA, en is ook tans besig met sy SA Veterinêre Raad registrasie. “As jy in die buiteland wil werk is dit raadsaam om vooraf te hoor wat hulle vereistes is, en of jy daar by hul chiropraktisynsraad moet registreer,” sê Michiel. “As dierepraktisyn is die grootste frustrasie dikwels mense wat hul voordoen as diere chiro’s sonder die nodige kwalifikasie,” sê hy. Die grootste bevrediging in sy beroep is egter wanneer hy ‘n dier kan help wat andersins dalk van kant gemaak sou word, of wanneer jy mens en dier kan help om saam hul beste potensiaal te bereik, veral in die sportwêreld soos met perde waar diere chiropraktisyns al groot sukses behaal het. Hoewel die beroep fisies uitdagend is, kan mans sowel as vroue dit beoefen. As jy gewonder het wat die verskil tussen fisioterapie en chiro by diere is, is die antwoord eenvoudig. Fisioterapeute werk slegs op die spiere, waar die chiropraktisyn met beide die spiere en bene kan werk. Michiel fokus op die spiere rondom die area waar die gewrigte nie beweeg nie.

   

Een van die perde wat hy by Edenvale behandel het se lae rug was in erge spasma en die agterkwart baie oneweredig met die regterkant wat hoër was as die linkerkant. Dit was waarskynlik die gevolg van ’n trauma besering soos wanneer ’n perd sou gly. Daar is besluit op chiropraktisyn behandeling nadat fisioterapie nie in dié geval verligting kon bring nie. Die ander perd wat behandeling ontvang het, se ongemak by die rugwerwels was meer te wyte daaraan dat die een kant van die liggaam harder gewerk het as die ander kant.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://parysgazette.co.za/48763/so-vind-ook-perde-baat-by-chiro-behandeling/?fbclid=IwAR3Cdi_-uslMRqzC6gv_qe6mhoKDFJcAX7wxPLQveb8vZkzNfJ7MohvFfHM

Related Articles

Back to top button