NewsNews

Nie vir sensitiewe lesers: Sasolburger se hel na gebreekte enkel

‘n Gebreekte enkel het vir ‘n gesin in ‘n nagmerrie-ondervinding verander en dit duur reeds byna vier maande. Christo Landman (36) se enkel is Saterdag, 2 Oktober gebreek toe hy aangerand en op sy enkel geskop is.

X-strale is by die Sasolburg-hospitaal geneem en Christo is na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad verwys.
“Ons was op 4 Oktober daar en die dokter het gesê die operasie sal eers op 14 Oktober gedoen word. Christo is met ’n klomp pynpille huis toe gestuur,” vertel Christo se vrou, Nadia.
Christo is op 14 Oktober opgeneem, maar moes ‘n week wag voordat die operasie uiteindelik op 21 Oktober gedoen is. “Die omstandighede was egter baie sleg in die hospitaal. Christo moes ‘n skotteltjie gebruik om te was. Dit was baie onhigiënies,” sê Nadia.

“Die hoop was dat my man weer op 3 Desember sou kon begin werk,” vertel Nadia. Christo het sedert sy besering geen salaris verdien nie. Intussen het hulle besef daar is fout met die voet. ‘n Plaaslike suster by Leibrandt-apteek het sowat ‘n uur gesukkel om net die verbande los te kry soos wat dit aan die wond vasgesit het. Sy het daarna die wond skoongemaak, maar dit was duidelk dat daar infeksie was. Antibiotika is deur ‘n privaat dokter voorgeskryf. Die voet het egter erg geswel en was baie gevoelig. Hulle is op 15 November terug na die Sasolburg-hospitaal. Christo is opgeneem en met binneaarse antbiotika behandel.

Op 20 November is hulle terug na die Boitumelo-hospitaal. Christo is weer huis toe gestuur met “twee verbande en ‘n hand vol pynpille”. Tydens ‘n opvolgbesoek op 27 November is daar gesê dat Christo op 14 Desember ‘n tweede operasie sal moet ondergaan.
“Dit was vir ons baie slegte nuus, want my man is die hoof broodwinner. Ons kan nie net met my salaris oorleef nie en ons kinders moes by familie gaan bly sodat ons net weet hulle kry kos,” sê Nadia. Christo is toe geopereer en die volgende dag huis toe gestuur. Dit was egter duidelik dat daar steeds infeksie was.

“Dis toe dat hulle die dooie velle met ‘n lemmetjie afgesny het om die wond te probeer skoonmaak … sonder enige verdowing,” vertel Nadia.

Christo is op 11 Januarie na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas. Daar is bevestig dat die skroewe eers uitgehaal sou moes word en die wond heeltemal sonder infeksie moet wees, sodat daar ook ‘n veloorplanting gedoen kan word. Dit het beteken dat Christo nog minstens drie weke in die hospitaal sou moes bly.
“Ons vrees dat my man sy werk kan verloor. Dit is stresvol en ons trek nou baie swaar. Die hospitaal ignoreer my klagtes en ons wil regstappe teen die hospitaal neem. Die prokureur vra ons egter ‘n deposito van R50 000,” sê Nadia.
Christo is verlede Woensdag ontslaan en sterk tans by die huis aan. Hulle wag nou dat die been heg voordat nog ‘n operasie en die veloorplanting gedoen kan word.

Christo Landman van Sasolburg wat reeds vir maande met ‘n gebreekte enkel wat infeksie gekry het, worstel. Foto’s: Verskaf
Een van die verskeie stadiums van hoe die wond aan Christo se enkel gelyk het. Foto: Verskaf
Die infeksie aan Christo se gebreekte enkel was duidelik sigbaar. Die Herald se susterskoerant Vaalweekblad het nog erger foto’s, maar dit sal sensitiewe lesers ontstel.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Nie vir sensitiewe lesers: Sasolburger se hel na gebreekte enkel

Related Articles

Back to top button