NewsNews

Pynlike stryd teen beensiekte

’n Gesin van Arconpark in Vereeniging trek swaar nadat hul broodwinner met ’n siektetoestand genaamd chroniese osteomiëlitis gediagnoseer is en boonop sy werk verloor het.

Willem Naude is vroeg vanjaar met die siektetoestand gediagnoseer en is sedert Januarie nie in staat om te werk nie. Hy het intussen ook sy werk verloor.
Osteomiëlitis is ’n infeksie van die been wat deur pyn in die been, rooiheid van die vel (naby die geïnfekteerde been), koors en swakheid gekenmerk word.
Volgens sy vrou Tina, is daar reeds op Willem geopereer om van die infeksie te verlig.
Dit is glo gedoen ter voorbereiding vir ‘n groter operasie wat Willem sou moes ondergaan, waartydens daar deur sy geïnfekteerde femur geboor sou word om van die infeksie ontslae te raak.
Willem in sy rolstoel in die hospitaal. Die gesin vra om finansiële hulp.

Terwyl Willem vir die groot operasie gewag het, het hy sy been gebreek, waarna hy vir ’n maand in die hospitaal was sodat sy gebreekte been kon heg.
Skroewe en ’n staalpen is in Willem se gebreekte been gesit.
Gedurende hierdie tyd is daar ook deur sy been geboor om die infeksie te verlig.
Volgens Tina is dit ‘n lang en pynlike pad na gesondheid. Willem het sommige dae soveel pyn dat hy skaars kan loop.
“Hy is steeds by die huis en verdien tans geen inkomste nie.
“Dit gaan ’n ruk neem vir hom om terug op sy voete te kom sodat hy weer kan werk.
“Met my salaris is daar skaars genoeg geld om ons maandelikse uitgawes te dek.
“Ons het twee seuns (2 en 8 jaar) waarna omgesien moet word.
Hulle kan nie wag vir hul pa om gesond te word sodat hy weer met hulle kan speel nie,” vertel Tina.
Die gesin vra hulp. “Enige donasies om ons finansiële nood te verlig, sal waardeer word,” het Tina aan die Herald se susterskoerant Vaalweekblad gesê.
* Mense wat belangstel om die gesin te help kan vir Tina by 076 847 9783 of Willem by 064 169 7254 kontak.
https://vaalweekblad.com/82210/pynlike-stryd-teen-beensiekte/

Related Articles

Back to top button