NewsNews

Aftreeoord spook met vullis

Die SAVF se Fochville aftreeoord spook met die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit om hul rommel te verwyder.

Volgens die aftreeoord se bestuurder, me. Lynette Eybers, betaal die oord elke maand R1 743 sodat hulle vullis drie keer per week verwyder kan word. Die diens van die munisipaliteit is egter so swak dat dié geld byna in die water gegooi word. “Ons het ‘n geweldige probleem. As ons aanhou kla, kom die munisipaliteit een keer per maand om ons rommel weg te ry. Die laaste keer dat hulle hier was, was Saterdag, 7 November,” het Eybers die afgelope week aan die Herald vertel. Soveel rommel hoop op dat die groot geel asblikke by die aftree-oord tot oorlopens toe vol is. Dit skep ‘n gesondheidsgevaar vir die bejaardes wat daar woon. Van die bejaardes wie se huise naby die vullis is, kla ook oor die stank. Om die probleem te probeer verlig, moes die faktotum, mnr. Koos Pieterse, al telkemale self ry om die rommel te verwyder. “Ons het net ‘n klein bakkie en ek moet tot 50 vragte op ‘n slag ry om al die rommel weg te ry. Dit kos baie geld,” sê hy. Volgens Eybers het die aftree-oord al telkemale by die munisipaliteit oor die probleem gekla. Hulle het tot al oorweeg om op te hou om vir die rommelverwydering te betaal. Volgens ‘n regsmening wat deur die SAVF se hoofkantoor ingewin is, mag hulle egter nie tot só ‘n stap oorgaan nie. “Ons het die munisipaliteit gevra of ons nie ‘n privaat besigheid kan kry om die gemors vir ons weg te ry nie. Hulle het botweg geweier,” sê Eybers. Nadat die aftreeoord met die hulp van ‘n raadslid, mnr. Blackie Zwart, wat ook in hul bestuur dien, met die munisipaliteit oor die probleem onderhandel het, het die munisipaliteit wel onlangs ‘n privaat persoon gestuur om van die rommel te verwyder omdat hul vragmotor wat dié werk moet doen, blykbaar stukkend is. Die Herald het die munisipaliteit Dinsdag oor die probleem gekontak. Al terugvoer wat ontvang is, is dat die voertuig wat die groot geel asblikke moet leegmaak, wel stukkend is en dat die gemors verwyder sal word sodra dit herstel is.

Related Articles

Back to top button