NewsNews

‘Elke vrou kan leer om haarself te verdedig’

Só sê die bekende Oosterse gevegskunskenner van Carletonville, Chimmy van Winkel, wat Saterdag spesiale selfverdegingskursusse as deel van die 16 dae veldtog van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders aanbied.

“Baie vroue word in hul eie huis deur iemand wat hul ken aangeval. In baie gevalle lê die vrou op ‘n bank of die grond wanneer dit gebeur. Daar is veral baie geleenthede om jouself in hierdie posisie te verdedig of die aanval te neutraliseer en weg te kom,” sê hy.

Volgens Van Winkel gaan hy Saterdag vir die vroue wat die twee gratis sessies bywoon, die basiese maniere wys waarop jy jouself kan verdedig. Hierna sal dit egter van hulself afhang of hulle die bewegings verder gaan oefen of nog wil leer.
“Wat ek vroue leer is om iemand te kan neutraliseer. Om ‘n kans te staan teen iemand met ‘n mes of ‘n wapen het jy baie gevorderde opleiding nodig. In sekere gevalle, soos wanneer iemand op ‘n afstand ‘n vuurwapen op my rig, sal ek self ook net my hande in die lug sit. Ek was baie bly toe die SAVF my genader het om die kursusse aan te bied. Ek dink hulle doen regtig baie goeie werk,” sê Van Winkel, en voeg by dat hy self elke Vrydag selfverdegingsklasse begin aanbied het om aan die aanvraag te voldoen.
Van Winkel (43) is seker die beste persoon in die area om ander meer oor verdediging te leer. Hy was net ses jaar oud toe hy begin boks het en het in sy tienerjare onder die wakende oog van Joe Viljoen, wat baie gedoen het om skopboks in Suid-Afrika te vestig, na dié sport oorgeslaan.
Hy was in 2002 die wêreld skopbokskampioen in sy gewigsafdeling en was ook vier keer die Suid-Afrikaanse skopbokskampioen. Hy het ook verskeie ander nasionale titels in verwante vorme van gevegskuns ingepalm.
Saterdag se selfverdedingsessies is om 10:00 in Carletonville en om 13:00 in Fochville. Belangstellendes kan die SAVF kantoor by (018) 786 1016 of Van Winkel by 072 143 9680 skakel.

Related Articles

Back to top button