NewsNews

Ek en ‘n bril is nie maats nie

Ek dra nou al vir baie dekades bril. Na al die jare sou mens dink dat ek en ‘n bril gewoond is aan mekaar en ‘n hegte verhouding moet hê. Watwou!

Daar is nie ‘n manier nie. Vasgesit het ons in standerd 4 en vasgesit doen ons tot vandag nog. Elke bril het mos ‘n eie persoonlikheid en net sodra jy een gewoond is, dan is dit tyd vir ‘n ander. Elkeen sit anders. Party byt jou om die ore. Ander knyp jou neus, en dan kry mens die heuglikes wat aljimmers van jou neus wil afgly.
Help ook nou nie julle vertel my van hoe goed die slim mense by die oogkundiges dit vir mens buig om gemaklik te sit nie. Ek weet, maar ek kies altyd ‘n bril wat net mooi sit solank ek voor die oom sit wat die bril pas. Sodra ek daai deur agter my toetrek, dan begin bril met sy streke …
Ek is verstrooid gebore en juis daarom beland my brille in situasies wat enige brilmaker ‘n hartaanval sal gee. Daar was die keer wat ek ingedagte met bril steeds op in die bad geklim het. Dit eers agtergekom toe ek gesig wou natmaak en my hand teen my bril stamp. Of die keer wat ek, my aandag op die rekenaar, so gesukkel het om my bril op te sit. Net om agter te kom ek het reeds my rekenaar-bril op en die gewone bril gaan nie bo-oor die ander pas nie! Dan was daar die slag wat ek onseremonieel in ‘n donker tent vergeet het waar ek my bril geplaas het, en met my knie daarop beland het. Dit was die einde van daardie betrokke bril.
Ag ja, maar die toppunt van alle verstrooidhede met ‘n bril saam het so ‘n dekade gelede gebeur. Daardie jare het ek nog in Pretoria gewoon en gewerk. Die betrokke dag moes ek wasgoed was. Ek onthou ek het die wasgoed in ‘n hoop op die bed gehad om dit te sorteer. Ek het eerste die wit bondel gegryp en dit in die wasmasjien gegooi. Was nog een van daardie “top loaders”. Terwyl die wasmasjien doen wat wasmasjiene doen, is ek in die huis besig. Waarmee kan ek ook nou nie meer onthou nie, maar so speel wasmasjien na ‘n wyle vir my die deuntjie om te sê ek kan nou die wasgoed kom haal en ophang. Dis toe ek die masjien oopmaak, dat ek dit sien. My bril verstrengel in ‘n bloesie se ophangbandjies bo-op al die skoon klere.
Hoe die bril in die wasmasjien beland het, weet ek nou nog nie. Dalk was dit op die bed en het die wasgoed bo-op dit beland. Dalk het ek dit vir ‘n oomblik afgehaal en op die wasgoed neergesit. Wie sal ooit weet? Maar daar lê bril toe nadat hy deur die hele wasproses is. Ek het dit daar los gewoel en jy sal dit nou seker nie glo nie, maar die bril was nog in een stuk, nie eens gekrap of gebuig nie. Maar, dis nie ‘n goeie idee om ‘n bril in ‘n wasmasjien te was nie. Weet nie of ek die verkeerde waspoeier gebruik het nie, maar daai bril was steeds vuil!
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
https://vaalweekblad.com/80554/ek-en-n-bril-is-nie-maats-nie/

Related Articles

Back to top button