NewsNewsSportSport

Sakkie Raath: Luiperds se trotse beskermheer

Oom Sakkie is ‘n ware dienskneg van rugby, op en van die veld af, van toeka tot nou.

As daar een man is wat die gees van die Mielieboere en Wes-Transvaalse rugby daagliks uitleef, is dit die voormalige stut en huidige Luiperds beskermheer, Sakkie Raath. In rugbykringe is dié vriendelike lang man bekend as oom Sakkie – een van die prominente oud-Mielieboere wat nog steeds in Potchefstroom woon en by rugby betrokke is.

Sakkie Raath het in 66 wedstryde vir Wes-Transvaal gespeel.

Raath is tans die president van Potchefstroom Dorp Rugbyklub en het al sedert 1966 ‘n affiliasie met hierdie geskiekundige klub. Raath het in talle wedstryde vir Dorp gespeel en ook as tesourier, keurder en ander bestuursposte diens gedoen. Dit is juis die ding met Oom Sakkie – hy is ‘n ware dienskneg van rugby, op en van die veld af, van toeka tot nou. “Vir my is dit een van die grootste voorregte om die Luiperds se beskermheer te wees. Ek kon nie nee sê toe die unie my in 2019 gevra het nie. Ek kry nou nog hoendervleis oor Olënpark en al die geskiedenis van Wes-Transvaal rugby,” vertel Raath, wat by wyle prof. Johan Claassen as beskermheer van unie oorgeneem het.

Sakkie Raath met ‘n spesiale banier wat vir hom gemaak is om sy wedstryde vir Wes-Transvaal teen internasionale toerspanne te herdenk. Foto’s: Wouter Pienaar

Hierdie vaskopstut het in 66 wedstryde vir die Mielieboere uitgedraf, 59 as stut en 7 as slot. Sy eerste wedstryd vir Wes-Transvaal was in 1968 teen Boland en die laaste een in 1978 in ‘n dekade waar hy talle ander hoogtepunte beleef het. “Ek het teen Italie, die Britse en Ierse Leeus en die All-Blacks op Olënpark gespeel. Dit was harde wedstryde, maar baie goeie herinneringe. Raath het teen die Leeus se Fran Cotton in 1974 en die All Blacks se Billy Bush in 1976 geskrum in daardie wedstryde en hy voeg by dat die skrummetodes nou baie verskil as in sy speeldae.

Sakkie Raath blaai deur ‘n plakboek van Potchefstroom Dorp Rugbyklub se geskiedenis.

“Die vaskop het altyd met die regterarm gelei en die loskop met die linkerarm. Dit was alles om in die regte posisie te kom en jou opponent te stuit. In daardie dae kon ons ook ‘n ou aan die trui met mening gryp en ‘n mens kon jou opponent letterlik in die grond skrum. Dit was belangrik om seker te maak dat die haker die bal kon hak, aangesien ‘n mens die bal reguit onder die haker se voete moes ingooi daardie jare,” vertel Raath.

Sakkie Raath in sy speeldae vir Wes-Transvaal. Raath is agter in die middel.

“My werk was om primêr op die skrums te konsentreer, die slotte te ondersteun en seker te maak dat die span goeie balbesit kry om die agterlyn te voer. Ons het nie met die bal gehardloop soos vandag se stutte nie.”

Hierdie stut se liefde vir rugby het by die destydte Hoër Handelskool in Potch begin, waarna hy toe verder by die Potchefstroom Onderwyskollege (Pote) onder die leiding van oud- Springbok, prof. Johan Claassen, rugby gespeel het. “Dit was vir ons ongelooflik dat ons held, Johan Claassen, ons kon afrig,” onthou Raath goed. Raath het later ook as Wes-Transvaal keurder saam met Claassen gewerk en al het hulle nou en dan koppe gestamp, was daar steeds groot respek vir mekaar. “Dit is een aspek wat ek hoog ag in die feit dat ek nog steeds baie vriende in rugby het en dat daar ‘n groot respek en kammeraderie onder mekaar is. Ek en ouens soos Piet en Giel Eloff, Japie Brits en Daan Badenhost bel mekaar gereeld,” verduidelik Raath, wat vir ‘n klompie jare by verskillende skole onderwyser was en as vakadviseur in latere jare opgetree het. “Ek en Jan Tromp deel ‘n verjaarsdag op 4 Desember wanneer ons dieselfde ouderdom word. Ons grap dat ons mekaar se tweelingbroers is.” Raath is eens dat hy graag wil sien dat die trots en tradisie om rugby op Olënpark te speel, teruggebring word.

“Die jong skoolkinders moet meer wedstryde op Olënpark speel, dit moet vir hulle ‘n eer wees om daar te kan speel. Dit is maar net een van die maniere hoe ons weer mense se belangstelling by die Luiperds kan behou. Dit moet die gemeenskap se span wees.”

Raath kry nou nog hoendervleis as hy aan sy speeldae terugdink. Hy erken dat hy baie bevoorreg is om steeds ‘n nou band met die unie te hê wat nou al ‘n eeu bestaan. “Ek het ‘n paar aandenkings wat vir my spesiaal is soos ‘n hemp wat ek van die destydse Rhodesia rugbyspan ontvang het, sowel as ‘n plakboek van Potch Dorp se geskiedenis en spanlyste, om maar ‘n paar te noem. Om deel te wees van die Luiperds Rugbyunie, sal altyd vir my ‘n hengse eer wees.”

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://potchefstroomherald.co.za/80596/sakkie-raath-luiperds-se-trotse-beskermheer/

Related Articles

Back to top button