NewsNews

Groot stormwindskade by deurgangshuis

Groot skade is Dinsdagmiddag, 20 Oktober aan die geboue van Lochvaal Emfuleni Welsyn op die Rusticana-hoewes buite Vanderbijlpark aangerig.

Die deurgangshuis benodig dringend enige hulp wat sakeondernemings en individue kan aanbied. Volgens mnr. Hannes du Plessis van Lochvaal Emfuleni Welsyn, Gesinsorg, Deurgangshuis, Ontwikkeling en Opleidingsentrum was die nood reeds baie groot voor Dinsdag se storm.

Nou is dit net soveel erger omdat ‘n groot deel van die geboue waar minderbevoorregte kinders en kwesbare volwassenes gehuisves word, erg deur die wind verniel is. Buiten ‘n behoefte aan geld en boumateriaal, is daar ook groot nood wat voedsel, groente, babaformule, babadoeke en beddens betref.

“Weens ‘n groot toename in mishandelde, verwerpte, verwaarloosde en enkelmoeders met babas en kinders, is ons organisasie se ‘Hande van Hoop’-projek geloods. Hierdie projek fokus op die akkommodasie, versorging en welstand van sulke kwesbare mense. Hulle kom uit situasies van huishoudelike geweld, mishandeling en teistering. Hulle kom klop bang, huilend en verniel by ons aan vir hulp.

Soms het hulle niks anders as net die klere aan hul lywe nie. Ons wil graag help, maar alleen kan ons min vermag. Saam met die sakegemeenskap en die publiek kan ons berge versit,” sê mnr. Du Plessis. “Ons organisasie kry geen steun van die regering om die 151 honger magies te voed nie.

Ons verskaf tans 453 borde kos per dag. Maandelikse bydraes van die sakegemeenskap of individue sal meer as welkom wees en alle skenkings is van belasting aftrekbaar. ‘n Art.18(A) belastingfaktuur kan verskaf word. Baie dankie aan die instansies wat ons reeds die afgelope 19 jaar ondersteun,” sê hy.

Mense wat donasies wil maak, kan dit in hierdie bankrekening inbetaal: Kinderfonds, Absa Bank Vanderbijlpark, tjekrekening: 405 677 3506, tak: 632 005, verwysing: U WhatsApp/kontaknommer. * Voornemende donateurs is welkom om mnr. Du Plessis en die organisasie by (016) 100 1072/083 496 9052 (WhatsApp ingesluit) of lochvaallew@yahoo.com te kontak.

Related Articles

Back to top button