BlogsNewsNewsOpinions

My selfoon is weg en die bad is te nou

My selfoon is weg en die bad is te nou

Ek soek in die sitkamer, die kombuis, die badkamer, my handsak … geen foon nie. “Wag, ek bel jou gou,” kry Ouma die slim plan. Ek hoor die foon lui. Ouma hoor die foon lui, maar ons sien vir foon nêrens nie.
Dit klink vir my die gelui kom êrens links van my af en ek is weer gang af. In die badkamer steek ek vas. Dit lui nou redelik hard. Ek het tog nie die foon in die toilet afgespoel nie? Skielik is daar stilte. “Ek gaan weer bel,” sê Ouma en die musiek klink weer op. Steeds links van my.
Dit was toe ek omdraai, wat ek onthou het, en so voel-voel na my kniebroek se gatsak, die foon vasvat.
Dis nie ver na die lodge waar die troue gaan plaasvind nie. Die ma van die bruid skarrel rond soos ‘n rooimier op steroids. En toe lui die einste ma se foon. Dis die bruid. Haar trouring is weg.
Dis in ‘n boksie omtrent so groot soos ‘n vuurhoutjieboksie êrens in een van die baie kratte, bokse en sakke wat rondstaan met versierings. Konsternasie!
Gelukkig neem dit nie lank vir Bella om die ring op te spoor nie. In al die geharwar vergeet ons om vir die bruid se broer te sê die ring is gekry.
Heelwat later hoor ek van die jongmanne hom roep, hulle moet ry en hy moet saam. “Belicia se ring is soek!” skreeu hy benoud van die kombuis se kant af. “Lankal gekry,” kom die koor uit verskillende rigtings.
Die middag betree ek die badkamer in Ouma Bella se huisie.
Wie ookal die affêre ontwerp het was onder die indruk dat alle bejaardes baie kort en baie maer is. Ek val nie in een van daardie kategorieë nie.
Ek bekyk die bad, dit lyk vir my bietjie aan die nou kant, maar ek is toegestof van my kroontjie tot by my toontjie, so hare sal gewas moet word.
Daar is ‘n stortkop aan ‘n pyp en daar is ‘n stortgordyn langs die bad. Stort sal dit dus wees. Ek klim in die bad. Pak my sjampoe en seep netjies op die rak bokant die bad.
Die einste rak lewer my eerste probleem op. Dis baie laag. Ek moet mooi trap of ek gaan kopstamp.
Daar is ‘n hak waar die stortkop gemaklik teen die muur sit. ‘n Mens hak dit net af en die pyp trek lank uit om by te kom.
So begin daar toe ‘n hele proses. Ek buig my knieë, kry die stortkop beet, kry die water aan die gang. Eers hare natmaak.
Dan weer kraan toedraai, stortkop op sy plek hak. Regop staan en onthou om die rak te mis om my sjampoe te kry… Julle kry die prentjie.
Ons is darem betyds vir die troue, wat goed afloop. Die bruid is pragtig en die bruidegom glimlag breed.
Alle toesprake is kort, die musiek is mooi en die kos baie lekker.
Feetjieliggies verlig die dek en ek en Ouma lag steeds oor ek nie my selfoon in my broek se sak kon kry nie.
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
https://vaalweekblad.com/77680/my-selfoon-is-weg-en-die-bad-is-te-nou/

Related Articles

Back to top button