NewsNews

Rowers se werk: ‘My kind se gesig vol bloed wat op haar skoolrok drup’

Dit was net die begin van 'n baie seer, emosionele pad

Ons pragtige Suid-Afrika het ‘n paradys vir moordlustige, bloeddorstige kriminele geword. Terwyl al meer wette gemaak word om wetsgehoorsame burgers se lewens in rompslomp vas te draai, wil dit voorkom of misdadigers toenemend met fluweelhandskoene hanteer word. En die regering ontken dit. Waarom? Die beste wat Vaalweekblad kan doen, is om aan te hou om oor sulke voorvalle te berig, hetsy die slagoffers wit- of swartmense is.

Die oorgrote meerderheid burgers van alle rasse kom goed met mekaar oor die weg. Die meeste wil net vrede hê en ‘n menswaardige bestaan maak, maar ‘n klein aantal misdadigers en hul marionetmeesters verander ons lewens in ‘n nagmerrie. Waar moontlik gaan Vaalweekblad sulke berigte, soos die een hier onder waarin ‘n ma van ‘n angswekkende roofaanval op haar en haar dogter vertel, na Engels vertaal sodat dit wyd gedeel kan word en hopelik ook die buiteland sal bereik.

Anina Burger vertel: Die 16de Oktober 2018 was seker die aakligste dag van my lewe. Ek het lank gedink voor ek tog besluit het om hierdie te deel, maar op ‘n manier weet ek dit sal help om hierdie seer boek vir ewig toe te klap en aan te beweeg. En dalk, as iemand hierdie lees, sal hulle leer uit ons ondervinding en meer paraat as ek wees….. Die eerste foto is ek, in die wagkamer van die ongevalle afdeling by die Unie-hospitaal terwyl ek moes luister hoe my kind huil oor die steke wat hulle in haar gesig inwerk….. Potblou en stukkend geslaan deur drie rowers wat ons beroof het – nie net van aardse goed nie, maar ook van ‘n leeftyd van emosionele kalmte, veiligheid en geborgenheid.

Ons het reg in die middel van die dag voor die skool se hoofingang in die kar gesit en wag vir Wessel terwyl hy besig was met sy matriek-eindeksamen. Mia het pas haar lisensie gekry en in die passasiersitplek gesit. Toe sy terugkyk in haar spieëltjie het ‘n kar reg agter ons gestop. Drie rowers het balaklawas oor hulle koppe getrek en op ons afgestorm.

Ek droom nou nog van ons geskree en vergeefse probeerslae om vinnig genoeg die deure toegesluit te kry. Maar ons was te laat…. ek en sy is altwee met vuishoue en pistole oor die kop en in die gesig geslaan. Toe ek uiteindelik tot verhaal kom, moes ek in haar oopgeslaande gesig vol bloed vaskyk wat oor haar skoolrok afdrup. Daardie dag, was maar net die begin van ‘n ongelooflike seer emosionele pad wat voor ons gelê het.

Soos wat die tyd aanbeweeg het, het ek agtergekom – ALMAL het ‘n storie! Elke liewe een is ÓF self deur ‘n soortgelyke ding (of baie erger ook), óf hulle ken iemand wat net laasweek, óf nou die dag óf dood, óf geskend, óf geskiet, óf aangeval is….. so my afleiding was – ons was eintlik baie gelukkig?! Hoe siek en hartseer en blazé het hierdie goed nie geword nie?!

My hart breek in G R O O T S K E R P F L E N T E R S elke keer as ek van nog ‘n boer of Suid-Afrikaner hoor wat ook deur so ‘n dal van doodskadu moes(t) gaan en ek wens ons volk het ‘n kans gestaan om hierdie monsters uit die samelewing te kon verwyder. Ek het moed verloor en weet vandag ek moes seker meer paraat gewees het…… ????

* Die Burger-gesin was ten tyde van die voorval van Alberton, maar het intussen na Melbourne, Australië geëmigreer. Waarskuwing: Die foto’s hier onder kan sensitiewe lesers ontstel.      

 

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Rowers se werk: ‘My kind se gesig vol bloed wat op haar skoolrok drup’

Related Articles

Back to top button