NewsNews

VIDEO: Stil betoging word met groot polisieteenwoordigheid begroet

ʼn Groot polisieteenwoordigheid was gisteroggend (13 Oktober) by die Potchefstroomse landdroshof duidelik sigbaar met die hofverskyning van die drie beskuldigdes wat vir die moord op Sias Willemse aangekla word.

 

ʼn Groot polisieteenwoordigheid was vanoggend (13 Oktober) by die Potchefstroomse landdroshof duidelik sigbaar met die hofverskyning van die drie beskuldigdes wat vir die moord op Sias Willemse aangekla word. Petrus, Miriam en Andries Mahlapa het vanoggend in die hof verskyn, maar het hul reg om vir borgtog aansoek te doen, van die hand gewys.

Openbare orde polisie staan voor die hofgebou. Foto: Venessa van der Westhuizen

ʼn Vreedsame optog het voor die hofverskyning plaasgevind toe lede van die DA, VF Plus, AfriForum, Agri Noordwes, SAAI en TLU SA bymekaar gekom het om die familie van Sias Willemse te ondersteun. In ʼn gesamentlike persverklaring van bogenoemde groepe sê hulle: “Ons as verskillende groepe, uit alle kleure en klasse, werksaam in die Noordwes provinsie is vandag hier bymekaar om aan die Willemse- en Snyman familie simpatie te betuig. Ons is ook hier om elke ander familie wat treur of steeds treur oor die verlies van ʼn vermoorde geliefde se hand te kom vat. Dit kan nie so aangaan nie!”

Meer as 50 vreedsame betogers het vooraf by die Hervormde Kerk (Wolmaransstraat 29) vergader en hul betoging met skriflesing en gebed begin. Hulle het daarna in Wolmaransstraat tot by die hofgebou geloop en in stilte plakkate gedra met verskeie slagspreuke soos “Geen boere geen kos”, “Ons soek geregtigheid” en “Boerelewens maak saak”. Optoggangers het met hul stil betoging respek en meegevoel met die familie betuig.

Lede van die DA, VF Plus, AfriForum, Agri Noordwes, SAAI en TLU SA het aan die optog deelgeneem. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die polisie was gereed vir enige onwettige optrede. Twee strate rondom die hofgebou, Wolmarans- en Peter Mokabastraat, was afgesper en twee rye openbare orde polisie het voor die ingang van die hofgebou gereed gestaan. Beredepolisie en polisiepantservoertuie was ook teenwoordig.

Slegs ʼn beperkte aantal mense is in die hofsaal toegelaat – slegs 10 familielede en vriende van die slagoffer en 10 van die beskuldigdes asook die media.

Sias Willemse is op 22 September by sy huis in Baillie Park, Potchefstroom vermoor. Hy is in die studeerkamer met drie dasse om sy nek en ‘n skietwond in sy keel gevind. Hy het met beeste en mielies op ʼn plaas tussen Parys en Potchefstroom geboer. Hoewel die moord nie as ʼn plaasmoord beskou word nie, het betogers hom nogtans eerstens as ʼn boer beskou. Een van die beskuldigdes, Petrus Mahlapa het sporadies op Willemse se plaas gewerk en gras by sy huis in Baillie Park gesny.

Na die hofverrigting het Lynné Snyman, Sias se dogter, saam met haar man, Frik, die betogers wat buite die hof gewag het, toegespreek. Sy het hulle bedank vir hulle ondersteuning en gesê sy bid vir Suid-Afrika en dat ons ʼn lewe van vergifnis moet leef.

Frik en Lynné Snyman voor die hof. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die beskuldigdes het nadat hulle borgtog van die hand gewys het aangedui dat hulle op verskillende plekke in aanhouding wil wees.  Petrus en Andries Mahlapa het gekies om in Klerksdorp aangehou te word terwyl Miriam in Potchefstroom in aanhouding sal wees. Die saak is tot 16 November uitgestel.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://potchefstroomherald.co.za/79034/video-stil-betoging-word-met-groot-polisieteenwoordigheid-begroet/

Related Articles

Back to top button