NewsNews

Oumagrootjie (84) voltooi pretstap lag-lag

Al die “rose” van ‘n plaaslike familie het onlangs die Spar Virtual Challenge aangevat én voltooi. Die span het bestaan uit susters, skoonsusters, tannies, niggies, ma’s, ouma’s en 84-jarige oumagrootjie Vera Opperman (almal van Meyerton en Henley-on-Klip).

Opgedress in hul oranje tutus het die dames die 5km op ‘n plaas net buite die dorp aangepak. Hulle was gereed vir die groot stap. Dit was sommer baie pret en daar is al die pad gelag en gesels. Ouma Vera het die pretstap sonder enige probleme voltooi. Die dapper stappers sluit in:
Huibrecht Henning (op wie se plaas die stapwerk gedoen is), Danel le Roux, Larissa van Zyl, Nadia Opperman, Magda Goslett, Verona Goslett-Ackermann (‘n bekende sangeres van die streek wat ook op The Voice SA verskyn het) en Vera Opperman.

Die pretwedloop word elke jaar gehou, maar weens Covid-19 kon die tradisionele byeenkoms (wat jaarliks sowat 30 000 deelnemers lok) nie soos altyd gehou word nie. Vanjaar was dit ‘n virtuele wedloop waaraan deelnemers enige plek in die land op 26 September kon deelneem en tussen 06:00 en 18:00 kon voltooi. Die tema was “Wees Sonskyn” (#BeSunshine) en fokus daarop dat ons saam stap met waardigheid, doelgerigtheid en natuurlik, sonskyn (positiwiteit)!
Die geleentheid vier die buitengewone veerkragtigheid van Suid-Afrikaanse vroue.

“Ons het so teen 08:00 weggespring en die 5km tussen die landerye deurgestap. My oom, Coenie Henning, het spesiaal die roete vir ons uitgelê en afstandbordjies opgesit,” vertel Verona. En met hul helderkleurige uitrustings moes hul beslis soos sonskyn tussen die grasse en landerye gelyk het.
* Die inskrywingsgeld van dié wedloop word gebruik om kospakkies aan vroue wat deur geslagsgebaseerde geweld geraak is, te voorsien.

Die virtuele stappers in hul oranje tutus.
Ouma Vera glimlag gou vir die kamera.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Oumagrootjie (84) voltooi pretstap lag-lag

Related Articles

Back to top button