NewsNews

Misdadigers voer skrikbewind in Vereeniging se middestad

Onbeskaamde misdadigers voer ’n skrikbewind in dié middestad en niemand wat deur hierdie gebied beweeg, is meer veilig nie.

’n Voorval waartydens ’n vrou se arm Saterdag, 12 September helder oordag tydens ’n gewelddadige aanval oopgekloof is, het opnuut kommer oor die misdaadsituasie in die sakekern laat ontstaan.

Op grafiese foto’s wat wyd op sosiale media gedeel is, kan mens sien hoe die slagoffer op haar rug lê met ’n gapende wond van sowat 5cm diep op haar een arm en baie bloed. Die uitdrukking van pyn is duidelik op haar gesig te sien.

Daar word beweer dat die vrou Saterdagmiddag tussen 13:00 en 15:00 ’n sakkie aartappels by ’n groentewinkel in Voortrekkerstraat gaan koop het, toe sy aangeval is. Haar een arm is na bewering oopgekloof toe sy probeer het om die aanvaller te probeer afweer. Vaalweekblad kon vasstel dat sy kort na die aanval haar man gebel het, waarna hy haar aangeraai het om terug te gaan na Mega Apteek in Lesliestraat. Personeel van die apteek het bevestig dat die vrou kort voor die aanval by die apteek was en dat sy later, nadat sy aangeval is, weer by die apteek om hulp aangeklop het.

Personeel van die apteek het egter benadruk dat sy nie by die apteek of in die apteek aangeval is soos wat daar vroeër op sosiale media beweer is nie. Nadat die vrou se wonde toegedraai is, is sy vir behandeling na dr. Khalid Tickley, ’n algemene praktisyn wie se spreekkamer reg langs die apteek is, geneem. Tickley het by navraag gesê dat hy weens vertroulikheidsredes nie enige inligting oor die voorval, die pasiënt of die aard van haar beserings aan Vaalweekblad kan verskaf nie.

Ons het wel ’n boodskap vir die midaadslagoffer gelos en versoek dat sy ons terugskakel om inligting oor die wrede aanval met Vaalweekblad te deel. Teen saktyd het sy ongelukkig nie gereageer nie. Daar word aangeneem dat die vrou weens die aard van haar beserings steke sou moes kry. Kapt. Fikile Funda, ’n woordvoerder vir die polisie in Vereeniging, het by navraag gesê die voorval is nie by die polisie aangemeld nie.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Misdadigers voer skrikbewind in Vereeniging se middestad

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button