CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Vanuit Potch tot in Kalahari met barmhartige boekprojek

Hierdie massiewe versameling van meer as 2 000 boeke is in houers gepak, gekategoriseer en sluit verskillende nie-fiksie en fiksie boeke in waarby skoolkinders juis groot baat sal vind.

Boeke dra kennis oor, skep kreatiewe wêrelde en leer jou die genotvolle lewensverrykende vaardigheid van lees aan.
‘n Groep skoolkinders in die Noord-Kaap se Kalahari-distrik vanuit Van Zylsrus, Olifantshoek en Deben gaan nou opnuut die wonderlike wêreld van boeke ontdek, danksy die barmhartige droom van ‘n Potchefstroomse boekwurm.
Kittie Vorster het danksy skenkingsboeke, haar boekprojek vanjaar van stapel gestuur. In die grendeltyd het sy ‘n versameling boeke bymekaar gemaak wat sy hierdie week vir drie skole in die Noord-Kaap gaan skenk.

Hierdie massiewe versameling van meer as 2 000 boeke is in houers gepak, gekategoriseer en sluit verskillende nie-fiksie en fiksie boeke in waarby skoolkinders juis groot baat sal vind. Kittie-hulle het juis gister na die Noord-Kaap vertrek om hul visie ‘n realiteit te maak.

“Vir my lê hierdie projek baie na aan die hart omdat ek in Deben gebore en gedoop is. Dit is waar ek vandaan kom en nou kan ek ook aan die gemeenskap teruggee. Ek glo in my hart dat kinders ‘n liefde vir lees en voorlees sal ontwikkel,” vertel Kittie.

Hierdie afgetrede wiskunde onderwyseres wat by Girls High skoolgehou het, het nog altyd ‘n groot voorliefde vir boeke gehad en is ook deel van die Tlokwe Friends of the Library-projek wat boeke teen slegs R5 verkoop en dan geld vir die biblioteke in Potchefstroom insamel.

Nog van die tweedehandse boeke wat beskikbaar is.

“Ek en my man Daan het in Augustus 2019 in die Kalahari Gemsbokpark vakansie gehou en ek het besef dat baie skole in die area nie boeke of ‘n behoorlike biblioteek het nie. Ek het toe begin dink om boeke bymekaar te maak om dan vir skole in die area te skenk.

“My droom is dat elke klaskamer in die skole ‘n boekrak het wat die kinders kan gebruik,” vertel Kittie.

Haar man het toe ingespring en sy vaardighede gebruik om 28 splinternuwe boekrakke te maak wat dan ook saam met die klomp boeke by die skole afgelewer sal word.

Die stapels tweedehandse boeke voordat dit in bokse vir die reis na die Kalahari gepak is.

Dit is danksy die barmhartigheid van Hoër Volkskool Potchefstroom se hoof, mnr. Terry Nicholenas, dat Kittie sowat 80 persent van die boeke uit die skool se ou biblioteek kon kry. “Die skool het besluit om al hulle boeke verniet vir my projek te skenk, aangesien die boeke spasie opneem wat hulle vir ander doeleindes wil gebruik.

Dit was ongelooflik, aangesien ek net gedink het dat ek ‘n paar sou kon uitsoek. Dit het maande geneem om deur alles te werk en te groepeer, maar dit was terselfdertyd ook baie interessant om te sien watter pragtige boeke daar is,” vertel Kittie. Daar is ook seker gemaak dat ou gehawende boeke nie verlore gaan nie, aangesien dié boeke herwin is.

Daan Vorster met een van die boekrakke wat hy spesiaal vir die skole gemaak het.

Die beste boeke is in houers gepak en gereed om met nuwe oë en hande gelees te word. Buiten hierdie skoleboekprojek is daar selfs boeke in Kittie se versameling wat vir Potchefstromers verniet by haar huis beskikbaar is.

Van geskiedenis tot Engelse literatuur, kuns, woordeboeke, ensiklopedieë, romans en nog meer is in hierdie puik versameling van meer as 500 boeke beskikbaar. Dit is beslis iets wat elke boekwurm moet besigtig.

“Ek kry sommer ‘n glimlag op my gesig wanneer ek mense kry wat hier kom en ‘n paar boeke vat. Skole, ouetehuise en verskillende instansies en individue is welkom om te kom kyk,” vertel Kittie.

Vir navrae kan Kittie by 082 711 1756 gekontak word. Sy is tans uitstedig, maar sal weer vanaf Maandag, 14 September terug wees in Potchefstroom.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://potchefstroomherald.co.za/77931/vanuit-potch-tot-in-kalahari-met-barmhartige-boekprojek/?fbclid=IwAR2LDVXFQa6P9cKol_6tgtwN85plQNR1G6pJnIgfwibXGrXsSadV1Zy58pQ

Related Articles

Back to top button