NewsNews

(Huur)huis-moles in Siemensstraat

’n Geskil oor agterstallige huurgeld het in die hof opgeëindig met ’n huurder wat nou ’n interdik teen die huiseienaar bekom het.

’n Geskil oor agterstallige huurgeld het in die hof opgeëindig met ’n huurder wat nou ’n interdik teen die huiseienaar bekom het. Manus Kriel huur die huis in Siemensstraat in CW3 in Vanderbijlpark by Thabiso Benedict Mokheseng maar het vir maande nie sy huur betaal nie. Manus het in die hof aangevoer dat Benedict sy dogter en haar kinders geteister het en die oprit van die erf met sy voertuig versper het. Benedict beweer op sy beurt dat Manus reeds voor die aanvang van die inperking agterstallig met sy huur geraak het dat hy (Benedict) vir Manus gevra het om die agterstallige huurgeld – wat glo al etlike duisende rande beloop – te betaal of pad te gee. Manus gee toe dat hy Benedict duisende rande se huurgeld skuld maar sê dit is oor hy nie in staat was om te werk nie. “Selfs nou, met die oorgang na vlak 2 van die landwye staat van inperking word ons net toegelaat om tydelik te werk.” “Ons is besig om uit te kyk vir ’n goedkoper plek,” vertel hy. Volgens Manus, ’n ketelmaker van beroep, het die moeilikheid begin met die landwye staat van inperking wat aan die einde van Maart deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is. “Ek en my seun het saam by ’n firma begin werk net voor die lockdown aangekondig is. Die firma het reeds aansoek gedoen vir ons werkloosheidsversekering maar tot op hede het ons nog niks gekry nie. “My seun is met limfoonmkanker gediagnoseer en het aan die begin van die landwye staat van inperking baie siek geword. Hy op 25 Julie oorlede. “Sy baba is twee weke voor dit gebore.” “Die huiseienaar by wie ons huur kan of wil nie verstaan dat ons nie die huur kan betaal nie. Ons het nie eers elke dag kos nie, so hoe moet ek hom betaal?” “Hy het al die veiligheidshekke en ook die kombuis se deur verwyder. Daar is klein kindertjies in die huis.” Volgens Benedict gaan dit met hom ook swaar aangesien hy die huurverband op die huis moet betaal. “Ek kan nie bekostig om hierdie mense in my huis te hê as hulle nie huur betaal nie. Ek het ook maandelikse onkostes soos die huisverband en die water en ligte om te betaal, maar nou is my hande afgekap. Ek ly erge finansiële skade as gevolg van die situasie,” het Benedict aan die Herald se susterkoerant Vaalweekblad vertel. Kragtens die hofbevel moes Benedict sy voertuig uit die oprit verwyder en mag hy nie sy huis betree nie. Hy mag nou slegs met Manus korrespondeer deur die verhuuringsagentskap en mag nie Manus of sy gesin dreig of aanrand nie. Vaalweekblad verstaan Benedict is in die proses om ’n uitsettingsbevel te probeer bekom. Volgens Anet Sauer, ’n eiendomsagent by Cas Aucamp Eiendomme, het Manus kort voor die staat van inperking agterstallig met sy huurgeld geraak. Blykbaar skuld hy ook in die omgewing van R20 000 op die water en ligte rekening. Sauer het gesê hoewel sy groot begrip en simpatie met die Kriel-gesin het die eienaar van die huis waarskynlik die ergste benadeel word deur die situasie.

Manus Kriel en sy vrou Willie by die graf van hul seun, Manie, wat op 25 Julie aan limfoomkanker dood is. Foto: Verskaf
Thabiso Benedict Mokheseng het glo sy voertuig in die oprit parkeer nadat Manus Kriel sedert Februarie versuim het om sy huurgeld te betaal maar steeds die huis beset. Foto: Verskaf
‘n Gedeelte van die interdik wat Manus Kriel teen die huiseienaar bekom het.
Terwyl Manus Kriel en sy vrou Willie na hul seun sterwende seun Manie omgesien het, is hulle glo deur die eienaar van hul huurhuis geteister. Foto: Verskaf

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: https://vaalweekblad.com/71667/huurhuis-moles-in-siemensstraat/

Related Articles

Back to top button