BlogsNewsNewsOpinions

Ligte-leesstof: Links om of regs af?

Waar is die dae van sommer net gaan kuier? So onthou ek mos die storie uit 2016… Kry ek weer vanoggend een van my planne. “Kom ons gaan kuier vandag,” verklaar ek net na ontbyt. “Boksburg kwekery,” sê Ma. “Nee, by mense,” korrigeer ek. “By mense…” Die gedagte vang Pa onkant en hy eet sommer …

Waar is die dae van sommer net gaan kuier? So onthou ek mos die storie uit 2016… Kry ek weer vanoggend een van my planne. “Kom ons gaan kuier vandag,” verklaar ek net na ontbyt. “Boksburg kwekery,” sê Ma. “Nee, by mense,” korrigeer ek. “By mense…” Die gedagte vang Pa onkant en hy eet sommer drie pannekoeke wat hy moes oprol om te vries. “Nou dink wie,” sê Ma en loop eers agter Baba Bessie, die pekinees aan. Ek weet presies waarheen ek wil gaan, maar wil nou nie al die besluite neem nie.

“Rustenburg?” wonder Pa. “Bietjie ver” sê ek, maar kry tog Mooinooi op die lyn. Rustenburg se bewoners is in Mooinooi vir die naweek. Ek dra die boodskap oor. “Nee, dis darem wraggies te ver. Kyk hoe laat is dit al,” stuit Ma die planne. Noordwes toe. Pa het intussen begin uitvee. Ek keer hom voor in die sitkamer. Help nou nie ek gil in die gang af nie, want sy gehoor is ook nie meer wat dit was nie. “Bel pa se broer,” sê ek. “Brakpan,” spesifiseer ek verder. Vergeet in die proses Pa het twee broers in daai geweste.

Gelukkig verstaan Pa waffer ene ek bedoel. “Hy antwoord nie. Is seker kerk toe. My knie is seer.” Ek besef ek sal sake in eie hande moet neem. Grawe vir Pa twee van my anti-inflammatoriese bomme uit. “Kom ons maak klaar en ry… ek is seker teen die tyd wat ons klaar is, sal ons wel iemand in die hande kry.” Byna drie ure nadat ek my blink plan gekry het, sit ek steeds en wag vir die groen lig om te ry. Uiteindelik hoor ek: “Ons kan ry Nico, wag net vir Gerda…” Ja nê?
“Waarheen?” vra ek, bedoelende die adres. “Ek dog jy het gesê Brakpan. Maak toe die venster, ek verwaai,” raas Ma van agter af. Pa se foon lui. “Sit solank die ketel aan,” kommandeer hy sy jonger boetie. “Ons is op pad.” Hy onthou darem om die adres te vra. “Naby wat is dit?” vra Ma. “Agter WC kafee,” sê Pa.

“Dan gaan ons regs draai” sê Ma. “Links,” kom dit van Pa. Ek stop by die garage en kry raad by TomTom. “Ons gaan oor 29 km links,” verklaar ek. “Ons gaan oor 29 km regs,” brom Pa. “Die ding weet niks.” Ek besluit om na TomTom te luister. Ons kom ten eindelaas in Brakpan en draai regs. “Ek het jou gesê dis regs,” kom dit van Ma. “Dis nie by WC nie.”
“Maar ons gaan nie na Lizie toe nie,” raas Pa en maak weer die venster oop. “Ek verwaai. Maak toe,” raas Ma dadelik. Ek stop voor die huis. “Hoe weet julle dis die regte huis?” vra Ma. “Want daar staan nommer 3,” raas Pa terug. “Want die hek gaan oop,” verklaar ek en ry tot langs my oom. Kuier ons toe baie lekker. Maar alle goeie dinge kom tot ‘n einde en ons moet terug. “Stop by Chris,” sê Pa.
“Gerda is moeg” sê Ma. “Waar bly hy?” vra ek. “Hou hier regs,” sê Pa. “Dan draai ek?” “Nee, jy hou reguit aan.”
“Maar Pa, dis ‘n draai baan!” Ons draai hier en dan daar en dan weer reguit aan. “Daar is my laerskool,” sê Pa. “En daar is die huis waar ek grootgeword het.”

Asof ek nie baie ure in my kinderdae daar deurgebring het nie. Ek sug. “Dit voel soos ‘n reis na gister” sê Pa. “Ek het vanoggend laas gerook,” waarsku ek. “As jy mislik wil raak, ry huis toe,” ref Pa dadelik in die rooi. Ek het geen idee waar ek is nie en stop in die middel van die straat. “Ry net,” raas Pa. Ek sit. “Waar bly Chris?” vra Ma. “Ry net en draai regs daar voor,” brom Pa. Ons bereik bestemming nommer twee. ‘n Uur later kies die Fransman (kar) uiteindelik die pad huis toe. Naby Vereeniging vra ek, “wat eet ons vanaand?”

“O ja” sê Ma, “ons stop sommer by President Hyper vir hoender en brood.”
“Is reg” sê ek en knyp ‘n oog toe teen die son. “Julle moet brood koop,” sê Pa. Ek voel lus om albei my oë toe te knyp en belowe myself ‘n hele pakkie sigarette vanaand. Ek het dit nodig. My blink plan het my uitgeput… maar die kuier was wraggies lekker!

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Ligte-leesstof: Links om of regs af?

Related Articles

Back to top button