NewsNews

‘1,5 miljoen grafte vir Gauteng absurd’

Die Solidariteit Beweging het versoek dat daar dringend ondersoek ingestel word na moontlike ongerymdhede in die uitreiking van enige tenders om grafte in Gauteng te grawe. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die Gautengse LUR vir gesondheid, dr. Bandile Masuku, ter voorbereiding op Covid-19-sterftes in dié provinsie, plek vir sowat 1,5 miljoen grafte geïdentifiseer en begin grou het.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê dat hoewel die styging in Covid-19-sterftes in dié provinsie nie lig opgeneem moet word nie, is die veronderstelling absoluut absurd dat daar slegs in dié enkele provinsie vir 1,5 miljoen sterftes – drie keer meer as die aantal sterftes in die hele wêreld tot dusver – gereed gemaak moet word.

“Die eerste voorspellings, wat Suid-Afrika genoop het om die nasionale inperking in te stel, het geraam dat die land as ’n geheel ten slegste sowat 351 000 sterfgevalle weens Covid-19 kan hê. Hierdie voorspellings is egter gemaak voordat daar baie oor die virus en neigings bekend was. Die departement van gesondheid, in samewerking met mediese kenners, se eie vooruitskattings is egter later aangepas na ’n moontlike slegste scenario van sowat 48 000 sterftes landswyd teen November vanjaar. Hierdie moontlike slegste scenario is ver verwyderd van dít wat die Gautengse regering nou vir die een enkele provinsie uitstip,” het Buys gesê.
Volgens Buys laat hierdie aksie deur die Gautengse LUR baie vrae ontstaan. “Indien die departement van gesondheid self voorspel dat Suid-Afrika ten slegste 48 000 sterftes landswyd kan hê, is dit verregaande dat Gauteng homself moet voorberei op 1,5 miljoen sterftes wat sowat 10% van dié provinsie se totale bevolking uitmaak. Weens die massiewe verwydering tussen dit wat deur die departement voorspel word en dit wat die Gautengse regering op voorberei, is dit dus uiters belangrik om hierdie projek en die moontlike tenders wat daarmee gepaard gaan deeglik te ondersoek,” het Buys gesê.
Volgens Buys kan aksies soos hierdie voorts tot onnodige paniek en angs in die provinsie lei terwyl dit geensins op enige feite gebaseer is nie. “Indien die LUR vir gesondheid voorspel dat daar soveel sterftes in die Gauteng-provinsie gaan wees moet hy dit kan staaf deur empiriese feite bekend te maak. Indien nié, is hy besig om onverantwoordelik op te tree,” het Buys gesê.
Buys stel ten slotte dat dit sinies is van die Gautengse regering dat hulle antwoord op die pandemie blyk te wees om massagrafte te voorsien in plaas van hospitaalbeddens. “Aanvanklik was die rede vir die nasionale inperking dat daar meer hospitaalbeddens bygevoeg moet word, maar met meer as 100 dae van inperking is daar nasionaal slegs sowat 400 hospitaalbeddens bygevoeg,” het Buys gesê.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

‘1,5 miljoen grafte vir Gauteng absurd’

Related Articles

Back to top button