EntertainmentNewsNews

Treffers op eie bodem vervaardig

Die meeste van Francois van Coke se solo musiek, insluitend die nuutste nommer een treffer, Die Toekoms, saam met Jan Blohm, is in Potchefstroom vervaardig.

Die meeste van Francois van Coke se solo musiek, insluitend die nuutste nommer een treffer, Die Toekoms, saam met Jan Blohm, is in Potchefstroom vervaardig.
Plaaslike musikant en musiekvervaardiger, Dolf Willemse, werk al sedert 2014 saam met Van Coke.
“Ons het toevallig by ’n optrede ontmoet. Ek en my vennoot van daardie tyd, Francois de Klerk, het ‘n kans gevat en gesê ons sal sy musiek verniet vervaardig. Hy het dit gestuur en seker gehou van wat ek doen, want ons werk nou al ses jaar saam,” lag Willemse, wat ook die baskitaar in Francois se ‘band’ Die Gevaar, speel.
Dié oud-Volkie en Emmie het al sedert ’n baie jong ouderdom ’n passie vir musiek. Hy was nog op skool toe hy saam met die ‘band’ Bruce Noble, aan die ‘Rockspaaider’-kompetisie op MK deelgeneem het.
“My eerste ontmoeting met Francois was eintlik lank voor ek voorgestel het om sy musiek te vervaardig. Ek was nog baie jonk en het by ’n optrede na hom toe gegaan om vir sy handtekening te vra. Dit voel nog soms onwerklik omdat ek lank na Francois opgekyk het en nou is ons vriende. Ek voel al eintlik soos deel van sy familie,” vertel hy.

Dolf se passie vir musiek, sy kreatiwiteit en sy dryfkrag is dadelik opvallend.
In sy derde jaar aan die NWU waar hy Farmasie studeer het, het hy al saam met Francois getoer.
“Ons was in Europa en Dubai waar ons vertonings gedoen het. Toe ons terugkom, moes ons dadelik Pretoria toe gaan vir nog ’n optrede. Dit terwyl ek vir ’n toets moes voorberei. Ek onthou hoe ek op die vliegtuig gesit en leer het,” lag hy.
Dolf het op skool akademies goed presteer. Hy het keuring gekry om verskeie kursusse te gaan studeer, waaronder medies, maar musiek was nog altyd sy eerste liefde.
“Ek wou ook argitektuur gaan swot, omdat dit ook baie kreatief is,” verduidelik hy.
Die skoon en moderne benadering tot sy huis in Kampstraat se ontwerp spreek van sy voorliefde vir die kreatiewe sy van argitektuur en ontwerp. Hy het self die huis oorgedoen wat ’n klipgooi is van die huis af waar hy grootgeword het.
Die formele onderhoud by sy huis verander vinnig in ’n gesprek tussen vriende. Verskeie onderwerpe word bespreek, die platform vir Suid-Afrikaanse kunstenaars, soos MK wat nie meer bestaan nie, kunstenaars in Potchefstroom en die musiekbedryf in die algemeen.
“MK was cool, dit het ’n platform vir jong kunstenaars geskep. Dit is op ‘n manier die tipe kompetisie wat musikante dryf om beter te wees. Dit is ’n moeilike bedryf om in te wees. Daar is nie regtig sekerheid nie. Die inperking het dit nou weer gewys. Tog het die kunste baie mense deur die inperking gehelp.
“Musiek verskaf genot. Dit sal ‘great’ wees as mense nog meer plaaslike kunstenaars ondersteun,” verduidelik hy.
Hy vertel dat opkomende kunstenaars iets nuuts en uniek moet probeer doen. Wees net jouself, maak musiek waarvan jy hou, moenie probeer om die volgende Francois van Coke te wees nie, want jy is nie,” skerts hy.
Met ’n ateljee wat nommer een liedjies en musiek vir advertensies en televisie soos ’n goedgeoliede masjien vervaardig, wat is op die horison vir Dolf Willemse?
“Ek is besig om aan my eie musiek te werk, dit gee vir my baie persoonlike tevredenheid om iets heel op my eie te skep. Ek is darem gelukkig dat ouens soos Hunter Kennedy en Francois my kan ondersteun,” vertel hy.
’n Tikkie geluk, harde werk en die vooruitsig om kanse aan te gryp, het tot dusver Potchefstroom se verskuilde musiekjuweel goed te staan gekom.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike artikel:

https://potchefstroomherald.co.za/75263/treffers-op-eie-bodem-vervaardig/?fbclid=IwAR0pDYU02jTT26U4Ya_rnrvzp6Q0KDssaq6WIc1gw8q7BcICb91ZKEaU2rM

Related Articles

Back to top button