BlogsEntertainmentNewsNewsOpinions

Kinderverhaal: Yané en die Towerfee

© Santi Kruger deel graag ‘n kinderverhaal met lesers. Sy hoop dat ouers dit aan hul kinders sal voorlees en dat dit goeie gesinstyd sal bied. Santi is van Stilfontein en haar liefdie vir kinderstories en skryf kom uit haar kinderdae. Sy skryf ook kortverhale en het in 2018 ‘n boek gepubliseer deur Mecs Publishing – Die titel: Vlinders. (Vlinders is verkrygbaar op www.mecspublishing.co.za). Sy het ook ‘n Afrikaans Digbundel – Kaleidoskoop (wat aanlyn beskikbaar is en dit word uitgegee deur Hasepad Uitgewers) en kan verkry word by hasepad.com of by santikrugerauthor op Amazon. Verskeie van haar kortverhale is ook publiseer in saamgestelde bundels deur SA Skrywers en Pen.dit.

Yané en die Towerfee

Yané loer verveeld by die venster uit. Dit reën nog daarbuite. Sy hou van die reën, maar sy wens dat dit nou bietjie moet stop. Dit reën nou al vir drie dae aaneen. Sy wil so graag ‘n bietjie buite gaan speel. Sy sug en stap na haar boekrak. Sy wonder wat sy sal lees. Sy het baie boeke, meeste oor prinsesse. Daar is, Die prinses en die ertjie, Prinses Sofia, Die slapende prinses en nog baie meer. Haar gunsteling is: Die prinses in Feetjieland. Dit gaan oor ‘n prinses, haar naam is Mia en sy help die feetjies om Feetjieland te red. Sy vat die boek en gaan lê op haar bed. Sy raak verdiep in die storie. Haar gunsteling deel is waar Prinses Mia met die stoute trolle raas omdat hul al die blommeverf gegaps het. Gelukkig was die trolle baie jammer en het die verf terug gegee. Die feetjies kon nou weer aangaan om Feetjieland se blomme in die allerfraaiste kleure te verf.

“Yané!” roep mamma, “kom eet gou, mamma het vir jou ‘n toebroodjie gemaak. En hier is lekker warm milo.” Yané maak die boek toe en stap na die kombuis. Mamma drink tee saam met haar toebroodjie. Sy glimlag vir Yané. “Dit lyk darem asof die reën besig is om op te klaar.” sê sy.  Yané loer deur die kombuis se venster. Sowaar! Die reën het uiteindelik bedaar. Sy loer onderlangs na mamma, sy wil buite speel.

“Mamma, mag ek vir ‘n rukkie buite toe gaan?” vra sy met haar mooiste glimlaggie. “Nou goed” sê mamma, “maar net as jy belowe om jou geel reënjassie aan te trek. En moet ook nie jou rooi water – stewels vergeet nie, hoor.” Yané is baie bly. “Jippie! Dankie, mamma en ek belowe ek sal.” Sy vat die laaste slukkie milo en hardloop na haar kamer. Baie vinnig is sy aangetrek en reg om buite te speel.

Buite spring sy opgewonde in die waterplassies rond. Sy ruik aan al die blommetjies. En maak asof sy ‘n prinses is in Feetjieland. By die rotstuin skud sy die druppels van die blomme en maak asof sy dit verf. “Pssst! Pssst!” hoor sy iemand sê, sy kyk rond maar daar is niemand. “Pssst! Pssst!” hoor sy weer. Sy kyk af na haar rooi water- stewels, daar voor haar voete sit ‘n lelike, vet bruin brulpadda. “Pssst!” Jou waarlik! Die geluid kom van die vet padda. Verwonderd skud Yané haar kop. Dit kan tog nie wees nie? Kan dit?

“Wat is jou naam dogter?” kom dit weer van die padda en Yané skrik. “Moenie bang wees nie. Sal jy my saam met jou huis toe vat?” wil die padda weet. Yané ril, sy gril vir paddas en mamma is bang vir hulle. “Ek is eintlik ‘n towerfee, ek woon in Feetjieland. ‘N nare heks het my getoor. Asseblief jy moet my help.” smeek die vet, bruin padda. “As jy my help, kan ek jou grootste wens waar laat word. Wat is jou naam dogter?” Yané staar eers net in ongeloof na die lelike ou vet brulpadda “M-m-my na-am is Ya-né” hakkel sy. Die padda spring tot bo- op ‘n klip

“Aangename kennis Yané. My naam is Miané. Soos ek gesê het, ek is ‘n towerfee. ‘N heks het my getoor.” skielik begin die padda huil. Yané weet nie wat om te doen nie. Hoe troos ‘n mens ‘n padda? Wonder sy. “Toemaar, moenie huil nie, vertel my hoekom die heks jou getoor het” sê sy dan. Die padda hop nog ‘n bietjie nader, bedui vir Yané om te sit. “Die heks is van plan om Feetjieland vir haarself te vat. Sy het die nare trolle gekry om my te vang. Sy het my in hierdie padda verander. Ek moes binne drie dae ‘n mense dogtertjie kry wat my sal liefhê en my sal vertroetel. Die nare heks weet dat dogtertjies, soos jy, gril vir paddas soos ek. Sê jy sal my help, asseblief Yané.”  “Nou goed” stem Yané in, “vertel my wat ek alles moet doen.” Die padda verduidelik dat Yané haar sal moet saamvat huis toe. Sy moet vir haar lief wees soos vir enige troeteldier en haar versorg. Ook moet sy saam met Yané in haar bed slaap, soos ‘n baba katjie of hondjie. Yané ril tot in haar klein toontjie. Tog tel sy die slymerige padda op en druk dit in haar jas se sak. Die brulpadda glimlag tevrede. Feetjieland sal veilig wees!

By die huis hardloop Yané vinnig na haar kamer. Sy kry ‘n ou skoene boks en gryp een van haar babapoppe se kussing en kombersies. Vir eers moet die padda maar hiermee tevrede wees. Sy maak ‘n snoesige bedjie en sit die padda daarin onder haar bed. “Waar gaan jy nou?” wil die padda weet. Yané verduidelik dat sy gou haar mamma met ‘n paar takies gaan help. Dan is dit bad-en-aandete tyd. “Bad! Wonderlik!” roep die padda uit, “mag ek saam met jou gaan bad?” “Sjuut!” maan Yané, “mamma gaan jou hoor en dan is dit vir seker koebaai met Feetjieland.” “Oukei, maar ek wil ook bad” kerm die padda. Yané sug. “Nou goed, jy kan saam gaan, ek sal vir jou lekker warm skuim water in ‘n skottel tap. Nou moet ek eers vir mamma gaan help. Sien jou nou-nou.” sê sy en stap uit by die deur.

Badtyd. Die padda “bad” in ‘n skottel vol heerlike skuim water. Yané verduidelik dat dit na badtyd, tyd vir aandete is. “Wat van my?” wil die padda weet. “Kan ek saamgaan? Ek wil ook aandete hê.” “Kyk, padda, ek het mos nou verduidelik, mamma sal jou uitgooi buitentoe. Ek sal vir jou aandete bring.” “Ribbit, ribbit, kwaak!” is al wat die padda hierop antwoord.

Daardie aand in die bed word Yané wakker van ‘n geraas by haar venster. Vaak vryf sy oor haar oë. Kyk en kyk dan weer. Dit is feetjies! Ja sowaar dit is! Vinnig maak sy die venster oop. “Hallo…?” sê-vra sy.  “Hallo dogtertjie, wat is jou naam? Ek is Fia, hierdie is Tinkie, daar is Mia en hierdie is Lara.” stel die pers feetjie almal voor. ” Ek is Yané, hoekom is julle hier?” wil Yané weet. Die feetjies vlieg bietjie nader.

“Ons is opsoek na Petrus padda. Het jy hom dalk gesien?” wil die geel feetjie, Lara weet. Yané weet nie wat om te doen nie. Die padda het dan gesê hy is Miané, die towerfee! Die pienk feetjie Tinkie kom nader.  “Petrus padda is baie stout” sê sy, “hy maak asof hy ons towerfee is, net sodat hy by dogtertjies kan bly.” Die padda is onder Yané se bed en hoor alles. En hoop net dat Yané nie die vier stout feetjies sal glo nie. Miané, oftewel, die padda het vergeet om haar van hulle te vertel. Die heks het hulle beloof dat hul Feetjieland saam kan oorvat. Dit is nou as hul kan keer dat ‘n dogtertjie die padda help.

“Nee, jammer ek het nie ‘n padda gesien nie.” sê Yané, sy wil eers die padda se storie hoor. Die feetjies bedank haar en vlieg weer weg. Yané is sommer vies, die padda beter nie vir haar gejok het nie! Sy maak seker dat die feetjies weg is. Dan haal sy die padda onder die bed uit.

“Ek kan verduidelik” sê die padda. “Jy beter!” sê Yané vies. “Petrus padda.” Die padda verduidelik van die stout feetjies wat die heks wil help om Feetjieland oor te vat. Yané weet nie wat om te glo nie. “Laat my asseblief toe om in jou bed te slaap, Yané. Jy sal sien dat ek die waarheid praat.” smeek die padda. Yané sug en gril, hoe op aarde laat mens ‘n padda in jou bed slaap? “Nou maar goed” sê sy en tel die padda op haar kussing. “Ribbit, ribbit, kwaak” sê die padda en glimlag tevrede.

Die volgende oggend is daar geen teken van die padda nie. Yané soek en soek, maar geen padda nie! “Padda, waar is jy tog? Kom uit, as my mamma jou kry gaan sy jou uitgooi!” “Hier is ek Yané.” Sy kyk en kyk en kan haar oë nie glo nie. Voor haar staan ‘n pragtige feeprinses. Die prinses se vlerkies maak sulke blink gekleurde patroontjies. Haar klere is saamgevat in al die mooiste kleure. Sy het die mooiste lang blonde hare. In haar hand hou sy ‘n towerstaffie. “Sjoe…!” is al wat Yané kan uitkry. Die towerfee kom nader. “Baie dankie Yané, jy het my gehelp om Feetjieland te red. Ek skuld jou een wens, wat sal dit wees?” wil die towerfee weet. “Ek – ek, mag ek ‘n dag in Feetjieland by jou kuier?” kry Yané dit uit. “Natuurlik!” sê die towerfee en sy swaai die staffie in haar hand.

Yané staar groot-oog na alles om haar. Alles is so mooi. Die feetjies en kabouters is almal baie vriendelik. Daar is ook die mooiste en vriendelikste bokkies en voëltjies. Sy skrik toe sy ‘n lelike trol voor haar sien. “Moenie bekommerd wees nie Yané, nie alle trolle is stout nie. Hierdie is Dawie en hy gaan vir ons die heerlikste blommesap maak om te drink.” Praat die towerfee hier langs haar.

Yané het die wonderlikste dag in Feetjieland. Sy drink heerlike blommesap. Sy gly op reënboë en dans op wolke. Sy help die feetjies om die blomme te verf. Sy help selfs die trol, Dawie,  om heuning​ te kry. Ook help sy die kabouters om hul oulike huisies te verf. Die huisies laat haar aan sampioene dink. Sy sing vrolike liedjies saam met die voëltjies. Wat ‘n heerlike dag in Feetjieland. Sy is so bly dat sy die padda gehelp het. Maar nou is dit tyd om huis toe te gaan. ‘N dag in Feetjieland en ‘n dag by haar huis verskil van tyd.

Sy is terug in haar bed. Mamma kom roep haar vir ontbyt. Yané glimlag en neurie ‘n opgewekte deuntjie. Die towerfee het belowe dat sy af en toe vir haar sal kom kuier. Feetjieland is ‘n pragtige plek!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button