NewsNews

Familie ontsnap met slegs die klere aan hul lyf, 2 troeteldiere sterf toe huis brand

Hoewel die Nelson-familie van Vereeniging met slegs geringe beserings daarvan afgekom het toe ’n brand Dinsdagmiddag hul huis in Gerneraal Hertzogweg, Drie Riviere in puin gelê het, was twee van hul troeteldiere nie so gelukkig nie. Volgens die 66-jarige Carel Nelson het Whisky, die Nelsons se worshond, en Ashley, hul kat, in die brand omgekom….

Hoewel die Nelson-familie met slegs geringe beserings daarvan afgekom het toe ’n brand Dinsdagmiddag hul huis in Gerneraal Hertzogweg, Drie Riviere in puin gelê het, was twee van hul troeteldiere nie so gelukkig nie.

Volgens die 66-jarige Carel Nelson het Whisky, die Nelsons se worshond, en Ashley, hul kat, in die brand omgekom. Die troeteldiere is Woensdagoggend in die tuin begrawe.

Lede van die Nelson-familie en vriende was op die toneel om te kyk of daar iets te redde is. Gedeeltes van die huis het nog gesmeul.

Die verwoestende brand het op 12 Mei omstreeks 15:30 ontstaan en feitlik al die gesin se aardse besittings vernietig. Hulle het letterlik net die klere aan hul lywe oor.

Nelson, sy vrou Wanda (66), hul seun, Carel Nelson jnr., skoondogter, Chantal Nelson en kleinkinders Annie (13) Kayla (11) en (4) is almal feitlik ongedeerd. Jessé Brazier (20) en haar verloofde Jannie Breedt (22), wat op ‘n woonstel op die erf bly, het ook nie ernstige beserings opgedoen nie.

Hoewel niemand seker is hoe die brand ontstaan het nie word daar vermoed dat dit deur ’n kortsluiting veroorsaak is. Die familie het glo deur ‘n venster uit die brandende huis ontsnap nadat Carel Nelson jnr. dit reggekry het om die diefwering uit die muur te ruk. Hy is gering beseer toe hy sy voet met glas van die gebreekte venster gesny het.

Die plaaslike gemeenskap het nie op hulle laat wag nie en dadelik ingespring om die familie te help. DA-raadslid Daleen Venter en Showers of Blessings was ook kort na die brand op die toneel om die familie te ondersteun, met Venter wat letterlik die klere van haar lyf vir een van die bejaarde inwoners gegee het.

“My hart gaan uit na die mense toe. Hulle het alles verloor tot die pensioengeld wat hulle getrek het,” sê Rudy Francis, ‘n korrespondent van Vaalweekblad, wat op die toneel was. Die vind tydelike huisvesting by ‘n plaaslike gastehuis.

Volgens Daleen Venter kan mense wat hulp aan die familie wil verleen of donasies wil maak met Red Pepper Kids, ‘n nie-winsgewinde organisasie wat na die welsyn van kinders omsien, in verbinding tree. Donasies kan by die organisasie se kantoor by 1 Telfordstraat in Duncanville afgelaai word maar daar moet vooraf met Henriette Marx gereel word by die nommer (016) 422 8087.

Skenkings kan in Red Pepper Kids se bankrekening inbetaal word.

Die nie-winsgewende organisasie se rekeningnommer is 330016814 en hul rekening is by Standard Bank.

 

 

Related Articles

Back to top button