NewsNews

LUR van NW Gesondheid praat oor COVID-19-verpleegster in Promosa

COVID-19-verpleegster was in kontak met 294 mense.

‘n Lid van Noordwes Gesondheid se uitvoerende komitee, Madoda Sambatha, het Promosa Kliniek vanoggend (Vrydag, 8 Mei) besoek om meer inligting bekend te maak oor die verpleegster wat Woensdag met COVID-19 gediagnoseer is.

Noordwes Gesondheid is tans besig om persone op te spoor wat in kontak met die verpleegster was. Ngwako Motsieng, ‘n woordvoerder van Noordwes Gesondheid, sê die verpleegster was sedert 22 April nie by die werk nie en het eers weer Dinsdag, 5 Mei by Promosa Kliniek ingeklok. ‘n Staatsdokter het haar Dinsdag getoets nadat sy simptome van die virus getoon het. Sy het Dinsdag gewerk, maar was Woensdag in isolasie by die huis terwyl sy op die toetsuitslae gewag het.

Motsieng sê gesondheidswerkers se toetse word baie vinniger as die publiek se toetse verwerk, daarom het sy al Woensdagaand haar uitslae gekry.

Sover is daar vasgestel dat 191 pasiënte Dinsdag die kliniek besoek het. Sy het slegs met vier van hulle nabye kontak gehad.

Ander mense wat ook met haar in kontak was, is haar agt familielede wat saam met haar in ‘n huis in Promosa woon, 35 vriende en bure en 60 personeellede. Sy het dus altesaam met 294 mense kontak gehad.

Sover is nog net 91 mense opgespoor. Sambatha sê hy is nie tevrede met die pas waarteen hierdie mense opgespoor word nie. Volgens hom is dit te stadig. “Ek sal egter nie rus voor almal wat met haar in kontak was, opgespoor is nie”, sê hy.

Hy waarsku verder die publiek om by hulle huise te bly en nie onnodig rond te loop nie.

Hy vermoed dat die verpleegster nie by die kliniek in aanraking gekom het met die virus nie, maar met mense van buite in die dorp wat asimptomaties is. ‘n Asimptomatiese persoon het die virus onder lede, maar word nie siek nie.

Die verpleegster word tans in die Tshepong Hospitaal in Klerksdorp behandel wat tans die COVID-19-hospitaal in die Noordwes is. Die res van haar gesin is elders in isolasie geplaas.

Die kliniek is sedert Donderdag, 7 Mei gesluit en word ontsmet. Die huis van die verpleegster sal daarna ontsmet word.

‘n Mobiele kliniek wat voor die kliniek geparkeer is, verskaf steeds mediese dienste aan mense in die omgewing.

Motsieng sê mense wat Dinsdagaand, 5 Mei na 19:00 die kliniek besoek het of mense wat dink dat hulle besmet is, moet hulself by dié mobiele kliniek aanmeld.

Die mobiele kliniek wat voor Promosa Kliniek geparkeer staan. Mense wat die kliniek Dinsdag, 5 Mei besoek het, kan hier aanmeld om vir die Koronavirus getoets te word.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://potchefstroomherald.co.za/72726/lur-van-nw-gesondheid-besoek-promosa-kliniek/?fbclid=IwAR1xk7b1S41CNWQD7N9VBZkZ0uxS5qA3qAeSdnFdOpaujKfQniinn5x-pC8

 

Related Articles

Back to top button