NewsNewsSportSport

Atlete ontwrig maar steeds aan die oefen

Op skoolvlak tref die inperking die sportspanne ook net so hard, aangesien talle toernooie gekanselleer moes word en oefeninge nie soos gewoonlik in spanverband kan plaasvind nie.

Potchefstromers is nou al in die sesde dag van inperking as gevolg van die huidige COVID-19 pandemie, maar die lewe gaan steeds aan vir talle sportmanne en vroue wat nie kan bekostig om net slap te lê in dié tyd nie.

Al is dit moeilik om al die normale oefeninge soos drafsessies en behoorlike gimnasium-sessies in te kry, is daar steeds verskeie roetes wat atlete kan volg om gereed te wees vir aksie sodra alles weer na normaal terugkeer en sport weer beoefen kan word.

Die NWU manshokkiespan se skerpskutter en doelvraat, Pierre Botma, het besluit om so goed as moontlik aan sy hokkievaardighede in sy tuin te werk.

“Ek doen maar die oefeninge wat deur ons sportwetenskaplike vir ons gegee is en draf dan elke dag tussen 5-10 kilo’s op die trapmeule. Ek vat ook ‘n hokkiestok, bal en ‘n paar cones, dan oefen ek ook bietjie hokkie op die gras,” noem Botma.

Aangesien Botma ‘n student is, moet hy ook aan sy opdragte werk, maar gebruik sy ander vrye tyd om flieks en reekse te kyk.

“Tussendeur dit doen ek maar die opdragte wat gegee word vir ons op efundi en as alles klaar is, is daar niks fout met Netflix kyk die res van die dag nie.”

Die NWU binnesenter en losskakel, Evardi Boshoff, meen dat die inperking sy oefenskedule baie simplisties maak en dat dit soms ook vervelig kan wees om net by die huis te wees.

Evardi Boshoff. Foto: Barco Greeff.

“Ons het met lockdown ons liggaamsgewigprogram wat ons moet volg. Dit is hier waar ons sonder gewigte oefen met ‘n program wat coach Bert (Moolman) vir ons uitgewerk het.

“Om fiks te bly is moeilik, aangesien ons nie kan draf of behoorlik tyd in die gym spandeer nie. Dit is selfs baie vervelig om net in die huis te wees. Ek glo elke ou in ons span doen sy bes om fiks te bly,” vertel Boshoff.

Op skoolvlak tref die inperking die sportspanne ook net so hard, aangesien talle toernooie gekanselleer moes word en oefeninge nie soos gewoonlik in spanverband kan plaasvind nie. Gimmies se o.17 netbalafrigter, Marike Maree, het vir haar netbalspelers ‘n voorseisoen/binneseisoen program geskryf vir hierdie drie weke. Dit behels ‘n kombinasie van vaardighede, krag, stabiliserings-, mobiliserings- en hardloop aktiwiteite. Dit is om die kinders aan die gang te hou en seker te maak hulle bly aktief.

“Ons het die potensiaal om baie goed te kan presteer hierdie jaar en daarom gaan ons nog steeds alles in ons vermoë doen om daar uit te kom. ‘No lockdown will keep Gimmies netball down,’ verklaar Maree.

“Die inperking is regtig baie sleg vir ons, want ons was so opgewonde oor die Waterkloof-toernooi wat vir ons voorgelê het, asook die vakansiekursusse wat ons sou bywoon. Alles was vir ons voorbereiding vir die seisoen wat voorlê maar nou is dit afgestel. Dit het ‘n groot impak op ons, asook elke ander skool se prestasies wat ons kan bereik in hierdie jaar.

“Ons wens dit was nie so nie, maar ons probeer nou die beste van die saak maak deur seker te maak die kinders oefen steeds in die vakansie.

“Daar is wel baie meer aspekte as net fiksheid waaraan gewerk moet word. Ons kry nou nie meer die geleentheid om kombinasie- en sirkelspel in te oefen en reg te kry nie,” verduidelik Maree.

Related Articles

 
Back to top button