NewsNews

Rommel steeds ‘n kopseer

Fochville se rommelprobleme duur steeds voort met al meer mense wat gemors op oop erwe gooi, hoewel daar ander plek is om dit te doen.

Inwoners kon vir etlike maande nie hul vullis na die Fochville vullisterrein neem nie, omdat geen vullis van dié terrein weggery is nie. Die probleem het só erg geraak dat nie eens die pad na die terrein meer begaanbaar was nie, omdat dit vol gemors was.
‘n Nuwe span werkers is egter die afgelope maand by die terrein aangestel en mense kan nou weer hul gemors daar aflaai.
Sommige morsjorse gooi egter steeds hul rommel op oop erwe, soos op die hoek van President- en Steynstraat. Dié hoek is reeds vir meer as ‘n jaar ‘n probleem, met sekere besighede wat al met tye bederfbare gemors soos pakke ou groente daar gegooi het.
Maandagmiddag was dié hoek steeds nie skoon nie, met onder meer groot hope grond en bourommel wat daar gegooi is. Ander rommel is ook kol-kol verbrand.
Inwoners en ‘n raadslid, me. Annett Venter, het al voorheen gevra dat “geen rommelstrooi”-tekens by sulke plekke waar mense gemors stort, opgesit moet word. Hulle wil ook hê daar moet beter wetstoepassing gedoen word sodat die skuldiges beboet kan word.
Die Herald het die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit Dinsdag oor die probleme uitgevra.
“Ons sal die rommel met tyd verwyder soos ons program vorder om dit aan te spreek. Dit is onwettig om rommel op enige publieke plek te stort en die skuldiges moet gerapporteer word. Die soliede afval-afdeling verwyder juis rommel by huise en besighede om sulke rommelstrooiery in Merafong te voorkom.
“Ons sal in die toekoms tekens opsit om mense daarteen te waarsku, aangesien dit belangrik is vir bewusmaking,” het ‘n munisipale woordvoerder Dinsdag gesê.

Related Articles

Back to top button