BlogsNewsNewsOpinions

In die Herald 20 jaar gelede – Man doodgery ná hy vriend glo vermoor

Die Herald het weer oor verskeie gebeure in sy uitgawe van 20 jaar gelede berig.

‘n Man van die omgewing is op slag dood in ‘n tref-en-trap ongeluk minute ná hy vermoedelik sy vriend vermoor en by die voertuig uitgegooi het. Die polisie op Carletonville is die vorige Vrydag om middernag na ‘n ongelukstoneel ontbied ná mnr. Marhinus Thole (28) glo sy vriend, mnr. Conradie Theunissen (34), se Volkswagen Jetta op die P111-pad gerol het. Thole het na die pad probeer kruip om hulp te kry toe hy deur ‘n aankomende voertuig getref is.
Hy is op slag dood en die motoris het onmiddellik die polisie ontbied. Die familie was egter verbaas om te verneem dat net een persoon in die motor was, aangesien die twee vriende saam na Randfontein onderweg was. Polisielede het Saterdag na die toneel teruggekeer en op ‘n vuurwapen afgekom en vasgestel dat die motor se linkersitplek vol bloed was.
Kontant van R2 008 is ook in die motor gevind. Volgens ‘n polisiewoordvoerder het hulle Maandag op Theunissen se liggaam afgekom waar dit in ‘n sloot langs die pad gelê het, skaars drie kilometer vanaf die ongelukstoneel. Hy is twee keer in die kop geskiet en het agt steekwonde aan sy liggaam gehad, waarvan een in die hart was.
Die woordvoerder het verder gesê dié twee was moontlik by ‘n wapentransaksie betrokke, aangesien hulle vroeër die dag vuurwapens by ‘n familielid wou wegsteek, maar dié geweier het. Die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is die een waarmee Theunissen vermoor is. Daar word vermoed dat sy vriend dalk die moordenaar was.
‘n Bekende sakeman van Carletonville is die vorige Vrydag in sy bakkie met ‘n skietwond in die kop gevind.
Die liggaam van mnr. Robert Buckle (37), eienaar van Tenex Vuurwapens in Flintstraat, is deur ‘n verbyganger in die veld naby JPC Mining opgemerk. Dié man het glo reeds die oggend toe hy na sy werk op pad was, ‘n vreemde bakkie in die veld sien staan. ‘n Polisiewoordvoerder het gesê hy het glo etenstyd weer daar verbygery en toe hy steeds die bakkie sien, het hy gaan ondersoek instel en op die liggaam afgekom. Die polisie is ontbied. Hy is met ‘n .45 pistool geskiet.
‘n 53-jarige man wat ‘n parapleeg is en sy moeder is die vorige Saterdag deur ‘n rower met ‘n mes aangehou en toe in die badkamer toegesluit, terwyl sy makker hul minibus gesteel het.
Die man sy ma (73) was om 18:45 in hul woonstel by Villa Siesta toe ‘n onbekende man skielik verskyn en hulle met ‘n mes gedreig het.
Albei se hande en voete is vasgebind, waarna hulle in die badkamer toegesluit is. ‘n Werknemer van die gesin, wat glo saans die man in die bed sit, het by die woonstel opgedaag en ‘n paar mans buite by hul voertuig sien lol.
Hulle het hom egter gewaarsku dat hulle hom gaan skiet, waarna hy weggehardloop en hulp ontbied het.

Related Articles

Back to top button